Oudtshoorn – volstruise, halfstruise en kwartstruise

Einde Mei begin die holtes weer geïrriteerd raak. (Ek wil nie sê ons gatte begin weer jeuk nie – bietjie bar.) Tyd vir ‘n road trip met Homer. Druk met ‘n songebrande swerwersvinger op die kaart en… Oudtshoorn sal dit wees. Kaartboeke word aan hulle ore nadergesleep, die beroemde kampboek word gevra vir sy opinie en die GaanPadSoek word teësinnig geraadpleeg. (Ek’s oortuig daai vrou wil ons laat verdwaal – ek hoor dit in haar beterweterige stem: “in 500 meters, turn left. Your destination will be nowhere in sight”.) Lyk my ons moet hier van Gordonsbaai af ‘n stuk oorbeur met die N2, en, aangesien ek ‘n swakte het vir passe en poorte, wegswaai deur Suurbraak (lieflike dorpie, liederlike naam) om deur die Tradoupas te kyk-ry-fotoneem-vergaap om by Barrydale aan te kom. Waar Diesel and Creme blykbaar wêreldberoemd (of ten minste Barrydale-beroemd) is vir hulle milkshakes en hamburgers.

Lees meer “Oudtshoorn – volstruise, halfstruise en kwartstruise”

Glentana – wraktig pragtig!

Vroeg April begin ons kampvoete alweer jeuk – was mos ‘n maand laas op die oop pad met ons motorhome Homer. So die onttrekkingsimptome begin – die huis voel te vas op die grond, het te min wiele en ons verlang na die alomteenwoordige petrol-parfuum en mis die opgewonde afwagting dat Homer ‘n terminale siekte gaan optel of plain-weg net gaan omwaai in ‘n sterk wind. Sommer baie vinnig en sonder enige skaamte word die kampgids nadergetrek en besluit ons impulsief ons moet Glentana toe. (Of Geentanne, soos party van ons Capies.) Glentana Caravan Park, om presies te wees. Waar ons nog nooit was nie, geen inligting van het nie, maar die gids sê hulle laat troeteldiere toe, en dis ons belangrikste oorwegingspunt. Alhoewel Pieks – ons gevreesde Chihuahua wie bepaal waar ons kan en nie kan kamp nie – jou sal byt (of ten minste ‘n smerige kyk gee of ignoreer vir ‘n halfuur) as jy vermetel genoeg is om haar ‘n troeteldier te noem. Sy’s mos mens… Lees meer “Glentana – wraktig pragtig!”

Titanic 2 – Die Hartseerder Sequel

Toe ons 2 liter Coke (met genoeg Klipdrift ingemeng om ‘n vasektomie op ‘n olifant te kan doen sonder dat hy ‘n slurp roer) oorboord val en onder die water verdwyn, weet ek ons Dom Sawyer/Huckleberry Dim vlotvaart was ‘n kak idee.

Kyk, dit het op ‘n goeie plek en tyd begin. Die plek – Glen Donald, om presies te wees. Vir die wat nie Aardrykskunde tot matriek gehad het nie, dit is ‘n klein stukkie aarde tussen Risiville (wat op sy beurt langs Peacehaven wat op sy beurt langs Vereeniging is) en Riversdal – ‘n walglike woonbuurt van Meyerton. (Meyerton was toe die aambei op die pitsweer wat die Vaaldriehoek was – no offense.) Glen Donald was aan die verkeerde kant van die treinspoor, wat die Vereeniging distrik van Meyerton s’n geskei het. (Nee, regtig – daar was ‘n genuine, actual, letterlike TREINspoor. Met treine. Daai tyd. Nou’s daar net bossies en gesteelde sleepers.) En nogal ‘n grondpad tussen Rissiville en Riversdal. Glen Donald bestaan uit ‘n klompie plotte – of kleinhoewes, as jy Hyacinth Bucket is. (YouTube gerus “Keeping up Appearances” – as jy nie ten minste smile nie, lek ek jou kieliebakke.) Lees meer “Titanic 2 – Die Hartseerder Sequel”