Karavaan koop is nie perde trou nie…

Ai, die tranedal toe ons vir Homer ‘n nuwe huis kry. Ons het in ‘n kort tyd lang myle op hom gesit. Memories gemaak soos Eskom groenhuis gasse produseer. Ons was by Gansbaai, Addo, Glentana, Clarens, Montagu, Plet, selfs Brandfort! (Darem nie Nkandla nie…) Maar die kampgogga het seer gebyt – die bloed het geloop. (O.K. daai een is op my – nie gedink ‘n tentpen wat gly kan so maklik ‘n gat in jou hand maak nie.) So die volgende stap op daai glibberige Teflon afdraande van “Kamp is Koning!” is om die gerief, gemak en spoed van Homer (jy stop, eet en slaap in drie maklike stappe, sonder enige karavaan-kaskenades of tent-tantrums) te verruil vir die stress, sweet en swets van karavaan-maneuvre, tent op- en afslaan en om altyd net een of twee tentpenne te min te hê. (Spoiler alert – Karavaan Kamp is toe Koning – maar luister eers na ons stryd en spook. En ek het gedink om ‘n ystervark te molesteer is moeilik…)

So, daar skommel ou Homer die verte in. En met “die verte in” bedoel ek die twaalf treë voor sy nuwe eienaars met hom om die hoek verdwyn. Ons pink ‘n traan of drie, kyk deur al ons Homer fotos en besluit finaal en vir ewig om nooit weer die lang pad aan te durf nie.

Tot ons die volgende naweek besef ons moet by die huis bly. En die huis is boring. Dit beweeg nie. Ons uitsig bly dieselfde, ons bure bly dieselfde, ons buurt bly dieselfde. En ons uitsig suig, (uitsuig?), ons bure is twyfelagtig – wat presies lewer buurman heeldag by die skole af met sy vensterlose van en hoekom staan daar “Free Candy” op die ding se kante? Ek het so ‘n stink vermoede hy probeer onskuldige kindertjies daar insleep en dan doen hy onnoembare euwels aan hulle – probeer hulle dwing om Bulls supporters te word. Die lae bliksem! En ons omgewing hier in Gordonsbaai raak besiger en onpersoonliker – al die vervloekte Transvalers wat hiernatoe aftrek. Werf-etters! Ek trek sommer terug Pretoria toe… Mens kan mos nie so leef nie! Waar’s die excitement, die interessantheid, die afwisseling van road trips en kamp? Die vinniger geklop van jou hart as die MSG van die dodgy, expired, sommer-so-deegskilfers-afskiet-van-die-oudgeit garage-pastei inskop. Die afwagting wat jou beetgryp as jy ‘n paar uur later al vinniger na die ablusie-blok moet drawwe om net betyds (all being well) van bogenoemde pastei ontslae te raak. Die hemelse vreugde as jy agter die deur kyk en ja, wragtig, daar IS toiletpapier!

So toe begin ons karavaan soek. Tweedehands, derdehands – selfs vierdevoets. Nuut koop is uit soos sussie vry. (Sharrap, Brakpan!) Die feit dat ek laas in een was toe ek nog vrywilliglik my huidige broer se oorgeërfde corduroy langbroeke gedra het, drie voet korter was en die Bee Gees ook nog drie was, word gesien as ‘n nietige feit wat gerieflik geïgnoreer kan word. Want internet, mos. Ons scan ‘n paar websites, doen minute se kennis op en begin rondry na mense wat agterdogwekkend graag van hulle karavane wil ontslae raak. Meeste van hulle kakkavane is UHD-duidelik herhaaldelik deur gietergate getrek, met meer duike en skrape as ‘n Datsun bakkie in Meyerton en het blykbaar laas ‘n seep en ‘n water gevoel toe Eskom nog krag en nie teleurstelling opgewek het. Suffel so dat ons leer om ‘n dringende inkomende oproep te fake en foon teen die oor kar toe te retireer met ‘n “Sorry, nou terug – moet net gou hier hoor”. En weg te trek terwyl Jokkie van der Strontpraat nog sy getuienis lewer van hoe hy net Sondae kerk toe was met die karavaan. So privaat koop begin lyk soos om kaal deur ‘n spieëlhandelaar te loop – jy gaan heel waarskynlik jou gat sien.

Nou moet ons maar doen wat almal altyd teen waarsku – ons moet na die gevreesde karavaan HANDELAAR toe! *Halloween-stem en spook-emoji* Handelaars is mos net ‘n eufemisme vir “geldgierige bliksems wat met ‘n Dracula-smile om hulle winkeltande ‘n opvrottende kleinhuisie op wiele met ‘n korter lewensverwagting as ‘n yskoue bier in Desember op die Wanderers aan jou sal afsmeer vir ‘n bedrag wat ‘n Gupta sal laat steier sonder om jou in te lig dat dié skeef-gestampte sif  meer fatale foute het as ‘n minister se verklaring dat hy geensins by state capture betrokke was nie”. Maar as jy, soos ons, al hoe meer bekommerd raak dat jy gaan uitry by Boeta Kroekemoer met sy opgesleepte en afgematte death trap op twee wiele agter jou, wat ruik asof Walter White daarin ook meth gemaak het, sonder enige waarborg of support as die vloeksel se wiele uitdonner op die N2 as jy net probeer om die scrapyard special by jou huis te kry, dan begin die kennis, advies en after-sales service wat ‘n eerlike handelaar veronderstel is om te verskaf, darem ‘n bietjie minder te-laat-vir-spyt en hare-uittrekkerig lyk. Selfs amper aantreklik. (Soos daai dik girl met die home-made perm en die effense gin en tonic probleempie begin mooi lyk so half twaalf op ‘n Vrydagaand by Grab-a-Granny langs Alberton as jy self darem al rondom ‘n handvol double brandies and Coke is.)

En Jan Fokkens! maar daar moet mos êrens ‘n eerlike karavaanhandelaar wees. (Gehoor Julius Fokkens het sy naam verander? Hy’s nou Piet Fokkens.) En dit maak sin om van professionele service providers gebruik te maak – wie wil tog nou van ‘n amateur argitek, prokureur of prostitiet (as dit die woord is) se dienste gebruik maak? So ek sien toe ‘n “previously loved” karavaan op ‘n handelaar wat naamloos sal bly se website – mooi blink en sonder foute op die fotos, nogal. Ek scribble gou ‘n elektroniese possie aan hulle waarin ek (ongelukkig!) belangstelling laat deurskemer in hulle foto-karavaan, en word terug geantwoord met die verkoopsman se kwyl oor ‘n moontlike verkoop wat ek eers van die laptop se screen moet afvee. Maar nadat ek, as gevolg van ‘n paar gate in my onderbroek van karavaankennis, ‘n swaar boodskap stuur wat buig onder al my vrae – in die vorm van bullet points (ek like bullet points) – hoor ek nooit weer van Klaas Kommissie nie. So mens kan hulle nie van goeie kliënte-diens beskuldig nie, en ons sal heel waarskynlik nie hierdie jaar Kersfeeskaartjies uitruil nie.

Vroumoedig soek ek voort, maar hulp is min, reguit antwoorde skaars en enige belangstelling in ons actual vereistes en situasie is doder as vrek. Heelwat afgesit (ek wil nie die woord afgepis gebruik nie) besluit ek karavaankoop moet gaan explosive diarrhea. Die volgende dag tik iemand weer “second hand caravan for sale” op my laptop in en ek sien enetjie by Tuinroete Woonwaens in Mosselbaai.

(Natuurlik Mosselbaai – ons bly mos in Gordonsbaai, so dis mos te maklik om ‘n karavaan enigsins naby ons te koop, nee kom, laat ons eerder 350km ry vir een!) Dié faantjie lyk maar knap en ouer as party fossiele, maar is lekker cheap (altyd belangrik!) en ‘n goeie verskoning om TW se diens (or lack thereof) te toets. Stoot ek ‘n explorative e-possie in hulle rigting, en so wrintiewaar! ek kry sommer vinnig ‘n vriendelike antwoord. Summier suspisieus dog ek eers dis spam van iemand wat hulle voordoen as die handelaar, en verwag ‘n opvolg-mail van hoe ek alweer die Etiopiese Lotto gewen het, of hoe Gomkop Groenewald van sy long drop se dak in Tibet afgemoer het en my al sy 43 miljoen spoefters (of wat ook-al Tibet se geldeenheid is) nagelaat het. Wat ek kan kry sodra ek om redes wat nie duidelik verduidelik word nie, net eers gou-gou R5 000 is sy rekening inbetaal. Maar ek antwoord terug en sien vinnig ek het ‘n selekant-skaars kreatuur raakgemail – ‘n hulpvaardige verkoopsman (Kobus, is die unicorn se naam) wat nie omgee om ‘n tentvol dom vrae te beantwoord nie en darem ook nie (hardop) giggel vir karavaan-virgins se bewende opgewondenheid en onsekerheid nie. Hy luister verbasend genoeg na wat presies ons met die karavaan wil doen (‘n jaar lank toer en kamp) en waarsku gou dat my eerste cheap keuse dalk ‘n bietjie knap gaan wees vir dié doel en ook vir my 110kg, 1.93m lyf. Om nie te praat van Die Smurf se vroulike vereiste vir pakplek vir te veel mooiermaakgoeters, genoeg uitrustings om almal te klee wat by nudiste-kampe uithang (so to speak) en natuurlik ‘n Masterchef Australia-hoeveelheid kombuis “noodsaaklikhede”. (Lyk my ek gaan miskien ‘n Ouma beskuitboks-grootte spasie kry vir al my klere, tools, skoene en boeke.) Dié sample van ‘n karavaantjie het minder pakplek as ‘n omgewings-onvriendelike Checkers-sak. Met ‘n lysie van ons behoeftes (demands?) kom hy 4G-vinnig terug met ‘n beter opsie – ‘n Gypsey Regal wat die vorige eienaars reeds omgebou het vir meer pakspasie, die tipe bed wat ons van hou – ‘n “island bed” wat “binne” toe kyk (my enkels en voete hang nog steeds onder af, maar ten minste skop hulle nie vas teen ‘n muur nie), en ‘n opset binne wat ons toekomstige kampstyl perfek sal pas. Maar genoeg daarvan – as iemand meer wil weet van Wessel se Woonwa Wkoop Wenke, wontak wy werus.

Maar nou moet ons deurry Mosselbaai toe, en om daar-en-dan te moet besluit om Faan te vat, my ongebore kinders se verbeterings skoolgeld te blaas en hom alliepad terug te sleep sonder enige idee van hoe hy regtig voel en leef, klink selfs vir my heelwat dom. Maar dis ook maklik, sê Kobus. Kom kamp ‘n paar dae met hom, en besluit dan eers. (Nie geweet mens kan ‘n karavaan test drive nie!) Ek wag vir die punchline, maar blykbaar is hy ernstig. Natuurlik klink dit na ‘n blink plan, ons bespreek ‘n staanplek by Dibiki Holiday Resort net langs Hartenbos (soos gesoute en geAromatte kampers), gooi ‘n Croc en ‘n Rennie (ingeval ons peckish word naby ‘n Engen) in ‘n sak en stoot deur M-bay toe.

Aangekom by Kobus kom ons agter Faan is groot. GROOT!

Vir iemand wat nog net ‘n “R200 a day.” huur-trailertjie gesleep het – en selfs met daai Dinky-toy dit sover moontlik vermy het om te moet reverse – lyk die Oom van ‘n karavaan soos iets wat iemand met ‘n Australiaanse aksent tussen Alice Springs en Kakadu National Park sleep. (Kyk bietjie Outback Truckers.) (En Kakadu? Klink soos wat jy moet doen as jy te veel van jou oorlede ouma se famous baked beans, broccoli en kerrievis bredie gevat het…) Hy vat ons rustig om en deur Faan, ons word alles beduie en ons mental hospital vol vrae beantwoord en ons besluit, dapper of dom (of dom en dom) om die trial run te try en te run as dit te moeilik raak. Ek lig Kobus in aangaande my trailer ervaring, en hy (sonder om uiting te gee aan sy sekerlik-groeiende oortuiging dat hy die kort strooitjie getrek het om ons te kry as potensiële kliente) volunteer om self vir Faan te sleep na Dibiki. Toe ek sien sy glimlag raak nog steeds nie bietjie styf of vals nie, push ek my luck deur te noem dat tent opslaan vir ons ook ‘n geslote boek in Swahili is. Weet nie of hy regtig net ‘n nice, hulpvaardige mens is nie, en of hy ‘n lepelgeboorte was of dringend die kommissie van ‘n vekoop nodig gehad het om ‘n skelm dobbelprobleem se skuld te delg nie, maar hy bied aan dat sy span sommer vinnig die tent-ding ook vir ons kan doen. En dis hoekom ons twee ure later, selfone in hande vir fotos afneem en videos opneem, in Dibiki staan en kyk hoe sweet almal behalwe ons en tent opslaan. [(Ek weier om af te dwaal van my punt, maar as jy, soos ons, bietjie bederf is met ‘n skoon badkamer waar jy nie Ebola gaan optel van net ‘n kort draai loop nie, gaan bietjie suintoe. Mooi, skoon, met nicer badkamers as ons s’n by die huis. En ‘n swembad met lekker onderdak braaiers handdoek-gooi naby, ‘n kroeg met die nodige TV as jy wil sien hoe ‘n Protea kolf-volgorde collapse, en van die niceste, hulpvaardigste en vriendelikste personeel en mede-kampers wat ons nog raakgekamp het. My buurman het selfs ‘n extension vir my geleen toe myne (natuurlik) net 43cm te kort is om by die kragpunt te kom. (En nee, slimjan, ek kry nie ‘n referral fee nie – ek’s net nice. Ek’s mos ook ‘n kamper!)] Ons neem twee SD kaarte vol fotos en videos, sodat ons nooit, ooit hoef te sukkel as ons dit self moet doen nie. (LOL, Ha-ha-ha! En LMFAO.)

Faan is toe ‘n groot plesier, en die tent amper groter as ons battery-hoender meenthuisie – so veel aanpassing by die situasie blyk onnodig te wees. En gelukkig gaan daar absoluut niks verkeerd terwyl ons daar kamp nie. Geen foute of kofops word gemaak nie – alles seepglad. Happily ever after – nothing to see here. Wat? Hoekom lees jy oor my skouer? Ek’s amper klaar met die storie. Maak eerder bietjie tee. Hoe? Nee, niemand wil daarvan hoor nie. Moenie nou ou koeie en wolf skaapwagter maak tot die gebakte pere voor die swyne gewerp word nie. Wie? Definitief nie. Nee. Agflippentog, O.K. – my liefste vroutjie vra so mooi dat ek net noem dat daar wel twee mikroskopiese drolletjies in die drinkwater geval het. Die eerste enetjie – ek staan so trots en kyk na ons nuwe karavaan, kyk af na die sleepstang wat so trots hier agter die kar uitstoot, en is sooo bly dat ek briljant genoeg was om twee jaar terug ‘n kar  te koop wat reeds ‘n sleepstang het. Kyk hoe spaar Pappa geld, né! En hier langs die sleepstang druk mens mos die karavaan se kragkabel in vir die fliekers en briekligte en- blinde bliksem van Bloemfontein! Ek het die adaptortjie by die huis vergeet wat die weird 13punt prop wat Mercedes insist om mee uit te kom omsit na die normale 7punt prop wat karavane like. So dit beteken slim Pappa moet terugry TW toe om nog ‘n adaptor te koop, en dis ver om te ry as jy nie ‘n vloekwoord wil herhaal nie…

Die ander ou drolletjie was net ‘n ou sleuteltjie – barely worth mentioning. Maar die sleuteltjie het stressietjies veroorsaak – hande-in-hare, slaan-my-met-‘n-nat-snoek, kots-in-‘n-slaapsak stress. Ons staan die laaste oggend op, ek gaan maak myself so presentable as wat ek op hierdie stadium van my lewe kan wees, en wil net gou die kar nadertrek vir karavaan hak en… die karsleutel is weg. Weg. Weg! WEG!!! Imagine Michael Flatley wat Riverdance, met Tourette sindroom, wat met ‘n Tazer bygekom word op ‘n persoonlike plek terwyl hy geblinddoek in kaktusse vashardloop, en jy’t nog steeds nie ‘n akkurate beeld van hoe ek soos ‘n simpel sot verskrik rondstorm en met ‘n ontploffende paniek al vinniger in elke, letterlik elke, plek soek vir die #vloekwoorde sleutel. (Is jy ook so stjoepit soos ek om, wanneer jy orals gekyk het en die ding is duidelik nie daar nie, begin jy weer oor-soek op al die plekke waar jy al was?) Kar, karavaan, tent. Onder kar, op karvaan, langs tent. En natuurlik word daar ook gesoek na die man (of hopelik die vrou) wat die sonde gedoen het. My sogenaamde vrou word vinnig beskuldig van nalatige sleutel-hantering en sommer gou is die lug swael-geel van die blamerings. Egskeiding-datums word voorgestel en aanvaar. Stomp, swaar en skerp voorwerpe word nadergetrek. Maar dit help nie die sleutelloosheid nie. En hoe minder ek die ding kry hoe haastiger en benouder soek ek. En hoe belagliker word my soekplekke. Coolbox, kar se cubby-hole, yskas, braaier. Maar nee, daai sleutel is wegter as Zuma se gewete. Nou moet ek plan maak. Gelukkig het ek ‘n spaar sleutel. In my bedkassie. By die huis. In Gordonsbaai. 350 kilometer ver. Ek kan gou ry en dit gaan haal, maar het ek genoem my karsleutel is weg? En Uber gaan my meer geld vra as wat die maanlanding gekos het. Dalk kan een van ons vriende daar die spaar sleutel kry en vir ons spoedpos of koerier? Maar daarvoor moet hulle by ons huis in, en die huissleutel is natuurlik veilig hier by ons… Awesome! Groen plan na bruin idee kom en gaan. Ons het nou amptelik poefies. En natuurlik nou, van alle tye, sien ek een van ons kampbure aangestap kom. Wil seker kom kennis maak en my laaaang stories vertel van hoe lekker hulle in 1837 saam met Piet Retief gekamp het. Ag liewe vadertjie tog! Ek’s normaalweg oop vir skinder en strontpraat, maar assegrootblief tog net nie nou nie – ek het meer stront om uit te sort as Rand Water Raad in die Vaalrivier. Maar nee, Oom Laspos kom wragtig tot by my, ignoreer my ek’s-besig-om-in-my-eie-hol-op-te-verdwyn-van-stress uitdrukking, vat nie my bewerige hande en rooi, geswete gesig as skimpe om eerder vir Tannie Laspos te gaan verras met haar eerste vry in drie dekades nie en insist om met ‘n kamperige glimlag sy hand vriendskapperig uit te steek, en… my karsleutel vir my aan te bied. “Die’s nie dalk joune nie? Ek het dit in die badkamer gekry nadat jy daar uit is…” Verligting vloei deur my soos ‘n industrial strength purgasie-middel. Ek bedank Oom My-nuwe-hero en bied hom ‘n handvol vou-geld, ‘n kompressor of ‘n tenkvol petrol aan. Al wat die wonderlikste oomblik bederf is die wete dat my ou bondeltjie liefde, my fantastiese vroutjie, nou gaan weet dat dit wel ek was wat die kakkas aangejaag het en dat ek eers in 2083 die einde daarvan sal hoor…

Lang storie langer. Ons bly lekker in Faan daai week, besluit op grond van die ervaring en ‘n heerlike boksie wyn dat dit dan so moet wees, gee vir Kobus sewe sakke goud en sleep Faan huis toe. Die slepery was ‘n walk in the park – as ‘n walk in the park beteken dat ons met vrees-fronse gery het waarin jy ‘n 50 sent kan verloor, oogspier-krampe gekry van op ses plekke tegelyk wil kyk en natuurlik SSSS. (Stress Sfinkter Saamtrek Sindroom.) Ons ou calamari-ringetjies het so toegeklap dat ons eers drie dae later weer ietsie kon vrystel. (Van dié drie dae se hardlywigheid, die gekreun en gesteun, die 72 ure van probeer geboorte skenk sal ek natuurlik uit goeie opvoeding niks sê nie.) Met die afkom by Sir Lowryspas het ons altwee so hard help briek met al vier voete dat ons met soollose Crocs by die huis uitgeklim het. Net die bokante het nog op ons voete rondgeflap. Maar Faan is darem veilig daar af en ons kon begin beplan aan ons eerste ware kamp/karavaan toer. (Net ‘n vinnige jaarlange toer deur SA – what can possibly go wrong? To be continued…)

En vir die rekord, plaat, tape, CD en MP3 player, Kobus is Kobus Botha wanneer sy vrou vir hom kwaad is en julle kan hom gerus pla by 044 695 2602 as julle ook ‘n karavaan-jeuk het…

3 Antwoorde op “Karavaan koop is nie perde trou nie…”

  1. Ek en vroulief het pas ons eerste Faan aangeskaf, by die einste Kobus. My vrou sê egter ons Faan is vroulik, maar ek weet nie of my vroulike vorm van Faan deur die Broeders as skaflik gesien sal word nie. Vroulief sê, beslis nie. So ons kan nog nie doop nie. Dankie Kobus, jou persoonlike diens, raad, advies ensomeer waardeer ons opreg. Nou wag ek om te sien wat die gesoute manne se uitdrukkings gaan sê as hierdie groentjie met die Exclusive volgende Vrydag by Ebb en Tide gaan probeer karavaan staan maak…

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.