Swarbergpas – broekskeur en briekmerke…

Nou vir die Bruce Willis, “Die Hard”, naelbyt, bekommerde knyp-poepe los, gaan-hulle-dit-maak-of-nie Homerstorie. (Weereens, vir dié wat om onverklaarbare en ja, kommerwekkende redes nog nie met Homer bekend is nie, gaan lees die ander stories!

Ons (dis nou die ou A-span – ek, Die Smurf en Pixel. As die name vreemd is, sien bo) was vroeg September laas jaar met Homer in Oudtshoorn. Al die toeriste-aantreklikhede en baie van die onaantreklike toeriste gesien. Ons besluit toe, een aand laat, langs die vuur met dapper glas in hand (natuurlik het glas nie invloed op gesprek gehad nie), om die Swartbergpas met Homer aan te durf. Nou dis nie Mount Everest nie – jy kort nie aanpassing by die altitude, supersterk Sherpas of swaar suurstofbottels nie. Dis net ‘n pas oor en deur ‘n bergreeks. Nou-wel grondpad, klipperig, nouerig, steilerig, swenkerig, met vele slootjies en knikkiekies, en nie vreeslik baie in die vorm van gerusstellende barriers tussen jou en ‘n bungie-lose jump nie, maar ons het dit al gedoen met net ‘n Opel Corsa Lite. (Hy was darem skree-moord-rooi, wat sekerlik gehelp het.) En daar’s nie baie wat jy my kan vertel oor hoogtes, sneeu, berge en moeilike, stressvolle situasies nie – ek het darem al op ‘n hoë leer gestaan, Cliffhanger en Touching the Void gekyk en ‘n halwe Kurt Darren liedjie geluister.

Maar nou is dit met Homer, en September, net na daai laaste sneeutjie geval het.

Ons kon nog duidelik die sneeu oppie berge sien, en die pas was, tegnies gesproke, nog toe vir verkeer.

En natuurlik is die grootste probleem Homer self. Want hy’s groot – maklik omwaaibaar deur sterk winde wat juis van passe hou, redelik omgooibaar deur ‘n bestuurder wat hom vergaap aan die uitsig en nie die volgende skerp draai sien kom nie, en kan belaglik maklik beur deur die bietjie barriers wat daar is. En hy vlieg en sweef maar sleggerig. En sy brieke is, wel, net vir vriendelike gebruik. Kom daar moeilikheid is die beste plan om die ander passasiers in hom vlugtig te groet, jou deur oop te stamp, en te tuck and roll. En hy’t die ontstellende gewoonte om te wieg – ry sy linkervoorvoet deur ‘n gat- of slootding, duik-wieg hy soontoe. Ry sy regtervoet oor ‘n hobbel, klip of dronk Bulls-ondersteuner en hy hel anderkant toe. Nie ‘n probleem op ‘n normale plat pad nie, maar nogal disconcerting as langs jou net lug en voëls is…

Maar om die Health & Safety party poopers happy te hou (hoekom poep hulle juis net op parties? Ek doen dit maklik orals), doen ons die volgende oggend net vinnig ‘n trial run. Ons sal net so ‘n entjie op ry, nog nie regtig PAS pas nie – net ‘n paar draaie in om seker te maak dis so maklik en veilig as wat ons weet dit is. Die pas (van Oudtshoorn se kant af) begin mos so bedrieglik geleidelik. Nog bietjie breed ook, en nie te inry-teater-hobbelrig nie.

No problem! Tot ‘n paar draaie later verander die pas se hele persoonlikheid, sy tanne kom uit en hy knor. Slote, steiltes, klippe, fyndraaie, noutes, hoogtes, kakkas! Ons kry sommer losmaag van die stress. Hier gat ons short kom! Homer hop verskriklik, elke hubbeltjie en baba-rotsie waaroor ons “ry” laat hom aan’t rolle gaan. Nou vang hy links ‘n op-ding, ons wieg regs, waar nog ‘n obstruksie vir ons lê en wag met ‘n smile, wat Homer net erger laat terugrol links – afgrond se kant toe. Dis heeltyd heen-en-weer en op-en-af. Hy spring rond soos ‘n lag-lelike meisie wat per ongeluk een donker nag haar eerste vry gekry het. Agter hoor ons glase klingel, goed omfoeter en erger nog – Homer kraak en kreun orals soos die oudste mens op aarde wat per ongeluk ingeskryf het vir die Comrades. Ek imagine struts wat afbreek, brake lines wat losruk, shocks wat platval en diffs wat, wel, wat diffs doen as hulle nie meer diff nie. En partykeer vang die regterwiel ‘n opperigheid en terselfdertyd vang die linkerwiel ‘n affetjie. Dan tilt ons senutergend vinnig en ver oor afgrond toe – sommer so ‘n derde van ‘n Standerd 6 deursigtige plastic gradeboog. Dan voel dit regtig of ons nou gaan oorneuk en freefall met die wêreld se swaarste valskerm. Dit raak baie stil voor – geen mens of hond praat meer vol sinne nie, en die dapper grappies van gisteraand het ‘n vroeë dood gesterf, as dit die regte uitdrukking is. Net die odd “Oshit!” en “Ofok!” en ‘n paar ander “O’s” wat ons hier maar eers onder die karmatjie sal invee.

Oogkontak is iets van die verlede – ek wil nie die ander meer verbouereer as hulle sien ek weet ons maak nou groen kakkas nie. In ‘n woord – BANG! Kyk, ek het al Die Smurf se verjaarsdag vergeet, ek het al in Brakpan sushi geëet, ek het al ‘n padblokkade se blou ligte laat-aand voor my in die pad geblur gesien – ek het selfs al te laat agtergekom daar’s net NNB one-ply toiletpapier langs my as ek druk besig was, maar nou besef ek eers wat is vrees regtig! Daai flight or fight storie is toe waar – jou hele lyf is snaarstyf en as Pixelietes nou hier agter my ‘n ballon moet bars bemors ek my seat, los een van daai sesjarige dogtertjie gilletjies wat kristal- en plastiekglase laat bars en spring uit Homer uit sonner om te bodder om die deur oop te maak. Alles in ‘n kwart sekonde.

Maar kom ons los gou die near-death experience volunteers daar en beskou hulle uit ‘n ander, veiliger hoek: Imagine hoe dit vir ‘n onbekommerde toeskouer (wat in ‘n meer gepaste voertuig is) natbroek-snaaks moet wees om dié drie te sien… Twee spookwit gesigte met sopbord-groot, onknippende oë wat star vorentoe tuur, met ‘n wit (met bruin kolle) Chihuahua gesiggie tussenin met ‘n ge-brace-de lyfie om die slingerstap van Homer te absorbeer. Die man se hande wat so styf om die stuurwiel geklem is dat daar druppels van Verimark se Diamond Guard wat hy laas jaar opgesit het tussen sy vingers uitdrup. Die vrou met die een hand voor op die dash (die snye wat haar naels in die egte plastiek gemaak het sit vandag nog daar) en die ander hand omgeklou aan die handvatsel bo die deur. En albei maak styf-lyf, sit rêrig op die “voorste gestoeltes” en, met elke rol na ‘n kant toe, leun hul bo-lywe oor na die ander kant toe. En altwee sit hoër oor elke klip en hobbel. En leun vorentoe as die helling steiler raak en die korter ratte al minder. Wat dié mimery help weet geen hond of mens, maar jy voel darem jy try help.

Wens ek kon dit sien maar die vrees-sweet tap so in my oë dis al wat ek kan doen om die vinnig nouer-wordende wandelpaadjie voor ons te volg. Nou wil ons, begeer ons, om om te draai. Dis nou nie meer lekker nie! Maar Homer is amper so breed soos die pad, en omdraai in ‘n normale pad is klaar ‘n job. Ons moet nog sweet, prewel en aan. Om die volgende draai. Hier is nou ernstige slootjies voor ons, wat soos fronse dwars oor die pad lê. Daar’s nie ‘n nugter manier wat ons plan of kans sien om te oor nie. Nou moet ons óf terug-reverse (‘n waarlik belaglike idee – daar’s ‘n draai net agter ons, ek het i.e.g. geen beter omdraaiplek voor die draai gesien nie en WEET JY HOE MIN KAN EK AGTER HOMER SIEN?), óf ons moet net hier, voor die fronse, omdraai. Great, ‘n sestien-punt draai, op ‘n pas, met die wêreld se langste, swaarste en hoogste Corsa (wat nie eers rooi is nie), terwyl daar enige oomblik ‘n Gautenger met sy splinternuwe Amakrok om die draai gedoef-doef kan kom om ons poer in ons… So daar begin ons die groot omdraai van 2018. Danksy Homer wat dink power steering is vir sissies (ons kom nou-nou by sy, LOL, “gearbox”), lyk ek tien minute later of ek in ‘n dam geval het. (Of soos Bruce Springsteen halfpad deur ‘n show, vir die wat meer kultuur het.) Ons laaste senuwee tjwieeeng! soos ‘n Cash Crusader kitaarsnaar en selfs Piekseliet se Chihuahua-ronde ogies begin op afkeurende skrewe trek. Maar dan is ons darem om, veilig en hoef dit nooit weer te doen nie! Breek oop die sjampanje! Toe ons uitflippeneindelik in Oudtshoorn voor die eerste plek stop wat lyk of hulle alkohol, spirits of aftershave verkoop, vat dit ‘n wyle. Ek moet eers my hande los-lever van die stuurwiel af met ‘n skroewedraaier en toe ‘n verbygaande krimpie se walker leen want ek het alle gevoel van my briekmerke af ondertoe verloor. Toe omsukkel om Die Smurf se naels uit die dash te trek. (Ek kry nie haar ander hand van die handle bo los nie. Moet dit afskroewe en sy met dit in haar hand die res van die dag haar doene doen. Gelukkig drink sy met haar regterhand.) Pieks, stywe-been van al die sterkstaan, strek lang-lyf, snuif die nie-wiegende grond dankbaar, gee my ‘n pragtige stink eye en vat ‘n stressverligtende pie-pie.

Laaater die aand, begin die nonsens. Moet ons nie maar more probeer oor nie? Prins Albert, wat net so ‘n hoes, poep en ‘n knor anderkant die pas is, is so ‘n pragtige dorpie. (Hoor ons.) En die sneeutjies lê nog so mooi. Dalk hop Homer as ons val en ons kom niks oor nie. Dalk was die vlekke uit my broek uit. Dalk, dalk, dalk… Lekker vol gevreet aan volstruis en moed-vol geglas, besluit ons dit was nie so erg nie. (En, to be honest, die enigste ander pad P.A. toe is baie liters petrol langer, en ons “werk mooi met ons geld”. Of is suinig, as jy nou wil begin lelik raak.) Live and don’t learn – dis ons daai. Wel, dalk nie learn nie, maar ons het darem (nou eers) remember wat ou Oom Albie eendag vir my gesê het: As jy ‘n swakkerige grondpad aandurf, blaas jou wiele bietjie affer. (Of beter nog, jou voertuig s’n.) Die papper wiele sal help om die klipperigheid en sloterigheid te absorbeer. (Anyway, that the theory!) Amper komieklik oorhaastig blaas ek almal af – totdat hulle sommer so boepens onder maak.

So, volgende oggend, met die entoesiasme wat effens gekwyn het, is families en vriende koebaai ge-WhatsApp en my Bruce Springsteen DVD versameling bemaak. (As jy nie daarvan weet nie, was dit nie jy nie.) Maar ons besluit ons feel lucky, punk! Ons pak alles ekstra stewig in Homer, sit ‘n ekstra lagie bubblewrap om die volste van die wynbottels, haal ekstra onderklere uit, sit Pieksmeister se bedjie stewig hier NET agter ons (waar ons haar plus bed kan gryp as sy dalk bed-en-al êrens heen wil gly) en val met ‘n lied in die hart in die pad. (Was seker Eye of the Tiger of Born to Run of iets soortgelyks, gewaarborg om jou te motiveer om iets stupids aan te jaag.) Pixel lyk bietjie twyfelagtig – sy is darem al ‘n gesoute (of ge-Royal Canine-de) roadtripper, maar na gister wonder sy of die regte spesie in beheer is hier. Sy lig haar wenkbroue skepties en trek haar snorre beterweterig terug toe sy hoor ons gaan weer die SBP aanvat.

Ons ry (weer) goedsmoeds verby die bordjie wat dit duidelik stel dat die pas toe is, ry tot by daai laaste restaurantjie wat jy kry net voor dit te laat is om om te draai, en trek gou af vir die laaste (ai, verkeerde woordkeuse), belangrikste preparasies. Homer se wiele word nog ‘n bietjie afgeblaas -anders as ‘n porn star is platter beter.  Ons vat ook gou ‘n shotjie aarbeilikeur (dit voorkom altitude sickness, het ek gehoor), maak glasies weer vol vir die pad en daar gat ons. Pieksie vermy oogkontak, en ek kan sweer sy’s op my sel besig om koebaai te sê vir haar familie. Die ondankbare hond het ook geen vertroue in my bestuursvernu- Whoops! Waar het daai draai nou so vinnig vandaan gekom? Briek boet! Anner gear! ANNER gear! En dis net wat ek vir myself skree – een ding wat ek nie kort nie is advies hier van links af. “Pasoppieklippe!” “Regs!” “Moenie jou dop mors nie!” “Links!” “Briek!” “Anner links!” “Draai!” “Draai!!” “‘Soppiesloot!” Afslaers kan by haar kom leer… En net as jy dink hier’s ‘n stukkie straight en jy kan maar ‘n sluk vat, begin die pad steiler, nouer en knopperiger word. Stoute klippe steek sommer so halflyf uit, ‘n parmantige slootjie kronkel skeef-dronk oor die pad en nou besef jy daar moet opgelet word.

Maar dis tog mooi hier links af – jy kan sien tot in oormore en- Shit! Nog ‘n draai wat sommer hier voor jou uitspring soos ‘n spietkop sonder gewete. Kyk, pappa, kyk! Halfpad op (so hoop ons) en ons trek klaar-moeg af by ‘n uitkykpunt. Piekste praat nog ‘n paar woorde oor haar testament, druk die foon dood en kom rek ook gou die maerste, kortste bene wat seker nog ooit op die SBP was. Almal pose vir fotos, redelik verlig dat ons amper bo is.

Min wetend die ergste kom nog. Terug in Homer word ‘n premature celebratory sluk gevat en aangestoot. Maar nou raak die kronkels nouer, die pad nog steiler en, as jy so opkyk boontoe, sien jy daar kom nog pad aan! Dis nog ver, suster! En nou raak dit al hoër hier links af. En die ou barriertjies min en dun. En Homer rol/leun/wieg deur elke ongelyktheid. En die hele pas en pad is NET ongelykthede! As hier nou ‘n band bars val ons vir dae… En nou nie om simpatie te soek nie, maar Homer dink ‘n outomatiese ratkas is fake news – al wat outomaties in hom gebeur is jou linkerarm wat vinnig soos Popeye s’n lyk, want nie net is hy handrat nie, dis nog daai wat hier bo langs die stuurkolom sit. En styf is, en stram. Tweede en derde rat het jare laas met mekaar gepraat, en nou haat hulle mekaar met ‘n olie-warm passie. Jy moet daai gear lever met oortuiging in een van hulle inworstel, anders is daar net ‘n ge-grrrr-grrrr! en jy’s nog steeds sonder rat en Homer verloor kosbare spoed en as hy hier gaan staan en hell forbid begin terugrol en waar’s daai spaar onnie van my?! Vierde en vyfde is orraait, maar raai bietjie watter ratte gebruik jy die minste berg-op? En natuurlik begin mens se hande nou sweet, so met elke stywe draai (en hier’s NET stywe draaie) moet ek draai om sy oorgewig lyf OM te kry, en die gladde handjie begin bietjie gly op die stuurwiel… Moerse – nog iets om oor te worry. Van die laaste paar draaie, rolle, afgear, stampe en slote moet julle maar vir een van die ander twee vra. My oë was meestal toe. (Dit help om die snow blindness te keer, sien.)

Bo, heel bo, is mos oordentlik plek vir aftrek, selfies, everybodies, nat voorkoppe en hande afvee, ongemerk jou broek check, ‘n onoortuigende selfversekerde laggie roggel en wonder waar jy skelm ‘n kort draai kan loop.

Nou word daar ‘n behoorlike, vars dop gegooi en onuitspreekbare slegte jokes gemaak. “Ons kan seker bietjie hier bo stop, ons het sopas eers hier aangekom.” “Jy en Pieks was baie goeie passasiers.” Ensovoorts. Baie onsnaaks en onvan…pas. En SO trots op Homer – die laaste keer wat ek so hero worshipperig gevoel het was toe John McClane sy vrou se horlosie losgekry het en Hans Gruber vallende siekte gegee het. En nou’s jy self sterk man, jy voel soos Arnie Schwarsezeggerneggerer in die tagtigs (nie sy tagtigs, waarin hy nou seker al is nie, dié tagtigs, toe hy nog boomstompe rondgedra het soos toothpicks). Ek bedoel, jy het darem mos sopas die dood seshoekig in die oë gekyk, vir hom gesê sy ma is ‘n Coke-en-‘n-skyf slet en tussen die bene geskop. (Eintlik kom heelwat van die eer ou oom Albie toe – sy voorstel van wiele papmaak het die hele experience se sfinkterfaktor afgebring van gister se 9.7 na ‘n meer ontspanne – ja, ontspanne, 6.3. Waar gister gevoel het soos ‘n beige Ford Cortina wat jaag oor ‘n inryteater se golwe, is vandag meer net ‘n geploegde land. Dit het my onderklere se rakleeftyd met maklik 2 jaar verleng. Dankie, ou Oom Albie!) (O ja, en sal die gryskoppies in die gehoor asb vir die natneuse verduidelik wat ‘n inryteater – dalk ook ‘n geploegde land – was?) Met nuwe moed in die glase klouter ons terug in Homer. Selfs Pieksie lyk nou weer liewer vir ons, en laat ons koninginlik toe om haar weer in te tuck. (Koud daarbo, en die laaste ou sneeuwindjie sny deur vel en pels.)

Maar hoekom lyk die pad nou so skerp ondertoe hier voor? Weet die munisipaliteit dan nie van Homer se dodgy brieke nie!? Dadelik word die bestuurhandjies weer klammerig, en nou begin almal  vastrap hieronder waar Die Smurf en Piekster wens hulle het ook ‘n briek gehad. 

 

 

 

 

Ek kan sweer ek kan sien hoe bewe hulle regterbene van die inspanning. Maar, tussen die angsfronse en vrees-sweetdruppels wat in my oë loop (en alles baie help, dankie) sien ek nogtans dat dié kant amper, nee definitief, nog mooier is as die ander. Die pad kronkel soos ‘n besope slang hieronder. Met meer uitsigte, kranse, klowe, rotse en “Oe, kyk daar!”-goeters as wat jy kan byhou. En die pad self, is ‘n skilderstuk in klip – een van die min mensgoed wat die natuur ‘n mooi hupstoot gee.

Elke paar tree, amper, stop ons om te kyk sonder angs. Pieks laat my vir oulaas ontlastingrig voel oor my bestuursvernuf (or lack thereof) deur, sodra haar voete by die eerste stop grondvat, sommer op eie poot haastig die pas af te drawwe. Die Smurf moet vinnig trippel soos iemand met ‘n moedswillige pie-pie wat agterkom hulle is waarskynlik agt tree te ver van die ablusie-blok af, om by te hou.

Gelukkig is Pixel nie Rottweiler se size nie, so optel en teësinnig terugdra na wat sy sien as haar lykswa toe is maklik. En ons ry weer. Kyk rond soos ‘n Vrystaat-koshuiskind wat ‘n roltrap sien. (Nie dat die V-k.k. noodwendig oningelig is nie, dis die Vrystaat wat geen nodigheid het vir ‘n roltrap nie. Mos plat.)

Ons vergeet skoon van die briekprobleem – mooigeit vat mos alle probleme weg. Vra enige plastic surgeon. Ons kronkel ondertoe en is nou vir die eerste keer Lotto-wen bly om agter te kom die pas gaan nog aan.

(Ons het laas net tot by Die Hel se afdraai gery.) Maar daarna word dit nog mooier – ons ry eers so bo die kloof en kan nog so afkyk in die mooi in, dan roller coaster sak ons so langsaan die kloofkranse ondertoe, tussen al daai kranse in, wat jy net-nou nog van daar koud-bo af beloer het.

Nou ry jy sommer onner en kan jy opkyk na die reuse rotsmure wat nou minagtend oor jou troon. En die mooiste rotse, in alle skakerings van bruin en rooi, met dapper aalwyne, struike en boompies wat somehow ‘n toon in ‘n krans gekry het en floreer. (Hulle kyk seker net nie af nie.) En selfs ‘n onsigbare watervalletjie of twee. En hier en daar, kan dit wees? – ‘n vergete telefoonpaal.

(Try daai een verduidelik vir iemand onder twintig wat die laaste tien jaar met ‘n selfoon vasgeplak  in die hand groot geword het.) En dan, heel onder, ‘n kordate ou stroompie sommer hier langs jou. Jy wil stop en bly. Jy’s bang jy mis iets moois. Jy’s bang die pas raak op. En dan, dêmmit, is jy deur en uit en jy beter al die stunning scenery onthou vir as jy ooit weer in die stad moet gaan bly…

As jy nog nie daar was nie, sit asseblief nou jou laptop af, gooi jou “life partner” en persoonlike troeteldier in enige voertuig en ry. En dan pop jy heel onder, heel anderkant uit. En dan, as jy slim is, val jy Prince Albert binne met die laaste uitskudsels van jou aarbeilikeur en gaan verloor jou in ‘n tydlose dorpie met ‘n Saterdagmarkie en ‘n hotel en vele eetplekke en interessante, ouer as oud begraafplase. (O.K. so ek like begraafplase – julle vermoed mos lankal ek’s weird, maar lyk my hierdie erkenning was die spyker in die doodskis…)

En stop asse-groot-blief by Gay’s Guernsey Dairy. (Nee, dis nie ‘n plekkie in San Francisco wat suiwelprodukte maak van fabulous koeie wat deur Lady Gaga en Cher supporters gemelk word nie, dis net ‘n melkery in P.A. wat die mmm-ste drinking yoghurt, kase en melk self maak en verkoop. En as ek jou ‘n guns of geld skuld, beskou hierdie tip as my volle terugbetaling: kry ‘n coolbox vol van hulle mozzarella. Tot iemand dit maak van moedersmelk (mammarella?) sal dit die lekkerste mozzarella bly. (Ek was nog nooit ‘n boesemvriend van mozzarella nie – ken dit net goed genoeg om met ‘n kopknik te groet as ek haar op straat sien. Maar ek het in een van daai sponssagte balletjies ingeval met ‘n mes en as Die Smurf my nie aan my wenkbroue daarvan afgetrek het nie, het ons niks teruggebring huis toe nie.)

Maar wag, ek hoor jy is besig om op mamma of pappa en Wagter te skree om gou te maak, jy wil almal nou uit die huis kry om die alarm te stel. Die Pixcanto is al gestart, die (vol) coolbox, blou eiers, taai frikkadelle en Simba sout & asyn is gelaai en jy het klaar gedink aan ‘n paar goeie jokes vir as julle bo kom  – jy wil NOU ry Swartbergpas toe… Geniet hom!

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.