Water!? Watter water?

Goeie nuus vir almal wat hou van lag is dat die Gordonsbaai Beukesse pad gevat het op die 13de Januarie. Al hulle aardse besittings is verkoop of weggegee of weggegooi of op stoor geplaas. Toe’s daar ‘n te-groot karavaan agter ‘n te-klein karretjie gehak, Sir Lowry’s pas op- en oorgesukkel en afge-free Jongensfontein toe. Waar ons vir die eerste keer in ons lewens self ‘n karavaan moes parkeer, uitlevel, grondseil slaan en tent opslaan. En het alles perfek afgeloop, soos op how-to YouTube videos? NATUURLIK NIE! Maar ons gaan ‘n deeglike, koeklike, pasteilike vertelling van daai hele gesukkel binnekort hier plaas. En Jongensfontein is net die begin van ons jaar se permanente kamp-omswerwinge. Ons wil nog orals. En elke plek sal ons die gesukkel, die gelekker en die gekamp met julle hier deel. Plus natuurlik details, inligting en baie fotos van elke kampplek en karavaanpark, ingeval een van julle ook daar wil gaan bly.

Maar vir oulaas ‘n laaste paar kort Homer-stories. (Teensy julle vra vir nog.) Weet jy nie wie is Homer nie? So gedink. Alweer nie ons ander Homer stories op ons blog gelees nie, nê? Die snaaksste voertuig sedert Herbie en Mr Bean se Mini en jy ignoreer hom!? Sies!

Maar terug na Homer. Hy is verkoop om die karavaan – wie ons verbasend oorspronklik Faan gedoop het – se aanskaf moontlik te maak. So die volgende twee stories (vandag en oor ‘n paar dae s’n) word met ‘n sakdoek in die hand en ‘n traan op die keyboard geskryf. Ons mis die ou geroeste, gepatchde, gevloekde ou ossewa-met-attitude…

Albei stories is stress stories, worry stories, moontlik-groot-skade en heel-waarskynlik-dood stories. (Spoiler alert – ons het dit darem gemaak.) Kom ons begin klein – met die skade storie. Sooo ry ons rustig kuier-kyk-oorslaap see-langs oor en op – Mosselbaai (pragtig), Glentana (wish you were here), Heroldsbaai (stunning), Victoriabaai (ai-ai), Wildernis (eendag as ek ryk is), Sedgefield (aaahh!), Buffelsbaai (sjô, dis net see!), Knysna (is dit nie dalk oesterfees-tyd nie), Plet- nee wag, mens ry mos nie verby Knysna sonder om gou na die Heads te gaan kyk nie. Alhoewel my vrou, beter bekend as Die Smurf, en haar ma, beter bekend as die wonderlikste skoonma in die wereld (ingeval sy hierdie ooit lees) dit eenkeer reg gekry het. Allie pad tot by, deur, en toe weer weg van Knysna af sonder om ooit nader as “Nouwaardedonner is die Heads?” te kom aan daai eina-mooi gesig daar van bo af. Ek sou graag, om ‘n lastige ou skei-sakie te vermy, wou sê dat dit in die dae voor GPS, kaartboeke, stop-en-vra, bordjies-lees-en-volg of sommer net plain old common sense was, maar dan moet ek ‘n onwaarheid vertel. No excuse, soos hulle sê. (Nie ek nie – soen-emoji, gatkruip-emoji…)

Ons kom toe met Homer wel daar bo by die uitkykplek uit, om uit te kyk, toevallig. Was toe al bietjie agter in my kop (daar waar jy kommerfeite wegsteek waarvoor jy nog nie kans, moed of geld het nie) ‘n paar honderd kilometer bekommerd oor Homer wat al hoe dorstiger raak. Dis nou water – sy pure alkoholisgeit as dit kom by petrol het ek lankal by die AA en die AA gaan aangee. Hy suip water – ek  moet elke nou en nou en nou weer optop. En hy word warm, warmder as daai Wetenskap-juffroutjie wat ek in Standerd 7 gehad het wat my ‘n ewige belangstelling en lus vir, kom ons noem dit dan maar Wetenskap, gegee het… En toe ons daar bo intrek by die kykplek met ‘n sierlike draai, sien ons met die uitklim so ‘n sierlike draai water ook. Lyk of ‘n slingerende dronkgat ‘n hosepipe in die hande gekry het. So nou loop die water sommer al uit – dis nie meer van drup of selfs slenter nie. Die karwag wat naderstap (hoekom is ‘n ontbeantwoordbare vraag – wie is nou hard genoeg laat val as kind om Homer te try steel?) vra nogal of dit sy air-con is wat so drup!? Die feit dat hy oor die golfie water moes spring wat Homer so gesluis-stort het moes hom sekerlik oortuig het hierdie is ver erger as ‘n hartseer air-con. Ek loer so skaam-skaam onder Homer in – weet nie of hy onthou het om sy onderbroek vanoggend aan te trek nie, en ook meganies-ongeletterd bang om enige-iets te sien wat ek nie kan weg-duct tape of cable tie nie. Dis net water, water, water… Ag liewe Homertjie tog – ons is in Knysna, volgende oorslaap is beplan eers in Jeffreysbaai, dié’s nog amper 200km ver, ek het my mechanic-graad by die huis gelos, wat dink hy moet ek nou doen?

Volgooi met water, en elke hol-ding ook nog volmaak vir die stuk pad J-bay toe, is die plan wat ek nou die blinkste kan vryf. Net gou The Heads beloer, befoto, dan vir Homer (weer) optop en met meer vrees en spanning as ‘n Bulls supporter wat op game-dag sy TV aansit, ry ek, effens vinniger as gewoonlik, aan J-bay toe. Nou’s my waardering en bewondering van die omgewing ook besig om water te lek – Plettenbergbaai (ja-ja), Nature’s Valley (hoe ver nog?!). Toemaar ek Huisgenotjies net – baie mooi bly altyd tydvat-en-kyk mooi, al ruik jou voertuig na warm enjin en koue vrees. Dors en warm bly Homer, gereeld word daar afgetrek en opgetop word hy, en bekommerder en ligter word ons. (Ligter – is dit net ons, wat, geface met ‘n voertuig met twyfelagtige kry-ons-net-asseblief-daar vermoë, al hoe hoër en hoër in ons sitplekke sit? Soos wanneer jou petrolletjie lekker laag raak, die kar se computertjie sê jy kan wragtag nog net 60km ry, en jy’s nou net verby ‘n sign wat jou inlig met ‘n wrede grinnik dat Bloemfontein nog 100km verder is. Jy sit al opper, stoot jouself teen die seat op. Tot jou kuit- en bo-beenspiere later wil kramp trek. Want dit help mos.) Natuurlik ry ons ook nie die regte of beste pad in J-bay in nie, want ons moet kies tussen twee karavaanparke, en, met ‘n amper bomenslike gawe om altyd die verkeerde keuse te maak, neuk ons deur die gatkant om by die karavaanpark wat duidelik al jare toe is, te probeer inkom. Weet jy… Nou moet daar eers blou woorde geprewel word, voor ons al warmder deur die hele dorp moet ry terwyl ons ‘n waterspoor los soos ‘n Hansie en Grietjie met prostaat-probleme, om uitflippeneindedemmitlik by Jeffries Bay Caravan Park te beland. Eintlik net ‘n oop stuk grond, met die nodige ablusie fasiliteite, maar so by die see as wat jy kan kom sonder om een van James Bond of Top Gear se drywende/swemmende karre nodig te kry om ‘n draai te loop.

Jy’s ‘n skulpspoeg van die strand af man. (Nog 2 jaar se climate change dan behoort jou skulp BINNE die see te val.) Dis so oop en mooi en beacherig en see-erig dat ons vir 12 sekondes vergeet ou Homer het ‘n terminale blaas-infeksie. Ek stop Homer op ‘n lekker site heel voor, amper teen die sementbankie en boomstompies wat al is tussen ons en ‘n paar van daai snaakse taaigat-plante wat altyd reg langs/op die beach groei, en die strand self. (Ek is wel vreeslik bekommerd oor Homer, en time is of the essence, maar ek is oorspronklik ‘n Transvaler, en as ons die see sien, moet ons so naby aan haar kom as wat ons kan.)

Nou is dit first things first – Die Smurf loop haal solank my toolbox en Dettol en pleisters. (Dis nie die eerste keer dat sy my iets gaan sien probeer regmaak nie. Sy weet jare-al my bloedgroep is O positief. Soos in “O shit, ek’s positief ek het nou ‘n aar raakgesny.”) Ek maak dadelik ou Homer se bonnet oop. En bonnet gebruik ek heeltemal verkeerd. Wat ek doen is: Ek draai ‘n wingnut los wat die passasierseat se rugkant vashou. Ek trek/druk/stamp/draai/forseer ‘n lever los wat dit heeltemal losmaak. Ek maak twee knippe los wat die onderkant van die p.seat vashou. Ek lig nou die hele seat op. En probeer dit gehak kry aan ‘n lussie wat dit (hopelik) bo sal hou. (Ek noem dit die f. lussie.) Probeer, want die f. lussie is, heel waarskynlik doelbewus, net twee sentimeter te kort gemaak. Ek moet dit nou met my moë bene (moeg van myself opstoot die laaste paar honder kilometer) opstoot, elke bietjie vinnig-verdwynende krag in my arms insit, ‘n vloek en ‘n poep los, en dan die f. lussie net-net oor so ‘n knop-ding gehak kry. Dis hoekom ek eerder net sê ek maak Homer se bonnet oop – net die verduideliking tap my… Mooi, die bonnet is nou oop. En ek’s klaar bewe-moeg. Nou moet ek my mechanic impression doen. Leun vooroor en kyk in die enjin in. Dis dit. Uncanny, nê? Dis amper of jy die olie onder my naels en die harige butt crack voor jou kan sien. TMI? Wat dit in die oortreffendste trap moelik maak is die feit dat die spasie wat die sitplek nou oopgemaak het, nie veel groter is as medium-sized T-shirt nie. Ek oordryf vir ‘n verandering nie te veel nie. Vra Die Smurf. Dis klein man. En ek moet nou alles deur die gaatjie sien en doen! Dit voel soos hartsjirurg wat ‘n hartoorplanting moet doen en hy kan dit net deur jou onderste “holte” doen. En dieselfde sadistiese ontwerper wat die f. lussie te kort gemaak het, het die hele rand van die bakwerk(?) enjinruim(?) wat rondom die T-shirt gaan, waardeur ek nou die onbekende goeters bekyk en nou-nou iets aan sal moet probeer doen, aspris skerp gelos. So nou moet die hartsjirurg deur jou onderste gat werk, en dié het nog skerp randte ook…

Maar ek’s nie bang nie – die pleisterboksie is nog redelik vol en die Dettol half. As ek net kan sien waar die water uitpomp, maar nou is Homer se blaas al leeg en alles natuurlik nat. So ek droë af, tap vol, start en word lekker natgespuit deur ‘n fonteintjie van water wat vrolik opspuit. Blykbaar daar waar so ‘n moerse swart hosepipe oor so ‘n vaal-silwer ding se totter oorgaan, en met ‘n vasberade-lykende, manjafterige clampbesigheid baie jare terug oordentlik, verskriklik, vir ewig vasgemaak is. Met my sekondes-lange ervaring as waterlek-opspoorder dink (hoop!) ek dadelik dat al wat fout is, is dat hosepipe se kind ge-perish is – daar waar hy oor die totter gedruk is. (Sorry vir al die tegniese terme.) Onmiddellik skep ek met een van daai kinder-plastic-beach grafies ‘n klein bietjie moed. Maar dié’s mos maklik – selfs vir ou Sewe Vinger Beukes met sy vyf oorgeërfde tools! Selfs ‘n platgetrapte brandewynprop met ‘n familiegeskiedenis van vertraagdheid weet dat jy net die clamp-ding losdraai (O.K. dit lyk bietjie permanent, outyds, vreemd en baie vas), hosepipe aftrek van totter af (wel, die spasie is hond-min daarvoor), die ge-perishde punt van hosepipe afsny (right, daar gaan ek verseker seerkry – my nagemaakte Stanley-mes is nogtans kommerwekkend skerp en ek’s baie lief vir my laaste sewe vingers), die nuwe kraakvars (verkeerde woordkeuse – dit moet asb nie weer kraak nie) hosepipe-punt weer oor totter druk (behoort darem nog ses oor te hê vir dit), en clampie stewig vasdraai. How hard can it be?

Ek gaan julle die PG13 version gee van die volgende paar ure van my lewe, hoofsaaklik omdat ek nie meeste van die woorde kan spel wat daar misbruik is nie. Die clamp is toe nie vandag, gister of 1992 se clamp nie. Homer is gebore in 1989, en ek’s seker die clamp is ook nog toe-se-tyd se clamp. Dis daai wat so met twee drade wat langs mekaar loop en met ‘n boutjie en moertjie (en dis die regte woord) vaskom. Daai wat moeilik skietgee en moeliker losdraai. So dis nie soos vandag se hose clamps wat jy met ‘n lag in jou stem sommer net met die naaste skroewedraaier losdraai nie – dié spesifieke klein kak moet ek met ‘n spanner wat die verkeerde size is (no surprises there) en dan met ‘n tang die moer na 29 jaar probeer oorreed om op te gee. En elke keer as die spanner of tang gly, tref iets sags van my, óf iets hards in die enjin, óf die Minora blade van die enjinrand. Broers en susters, vandag moet ek vir julle sê, ek het baie, baie foute. Maar vloek kan ek. Ek kry die clamp los en trek die hosepipe van die totter af. (En ek skip nou baie detail en pyn – onthou groot hande, klein spasie, enjin warmgery, hosepipe goed opgesit en halsstarrig om af te kom.) Met die uiteindelike aftrek/pluk van die hosepipe wil ek amper lighoofdig raak van die lekkerkry. Die ergste is oor! Tot ek afkyk. Niks van ge-perishde hosepipe-punt nie. Dis die silwer ding se totter waaroor die hosepipe gedruk was wat verbrokkel het oor die dekades, en nou soos Oupa Jaco wat sifilis gehad het se totter lyk. Vrot, verbrokkel en plek-plek weggebreek tot amper waar die silwer ding se lyf begin. Vir julle wat nie soos die skrywer meganies aangelê is nie, dit beteken dat daar amper niks is om die hosepipe weer oor op te druk en vas aan te clamp nie. My probleme het nou eers begin, en ek weet nie hoeveel bloed, vingers of geduld ek nog oor het nie…

Wat ek darem kan doen is om die Voortrekkerclamp af te haal en ‘n normale, koop-dit-sommer-by-Game hoseclamp op te sit. Daai wat ek – hou vas jou glas! – actually ‘n paar van saamgery het. Maar nou moet hose se kind eers weer terug oor Oupa Jaco. En verder oor as wat dit was. Sonder om daai laaste paar precious tottermolekules waaroor hose nog kan gaan en op vasgeclamp kan word ook opbreek… So ek druk daai swart vark oor Oupa tot die puisies op sy neus uitskiet, tot ek voel ek het drie nuwe aambeie, want dis nou of nooit. Plan B is los Homer net hier en hike huistoe, so Plan A moet werk – ek het laas in die army gehike. My clamp druk ek ook oor tot teenaan die silwer ding, hopende, smekende dat ek met die vasdraai darem die edge van die oorblywende totterrand vang en vasknyp. Maar nou’s ek bid-bang vir VASdraai. Want ek’s stupid maar nie dom nie. Maak ek nou krag gaan clamp mos Oom Jaco se sif totter HEEL afbreek, en dan’s ek in meer poefoes as ‘n skurk wat Liam Neeson se dogter êrens heen wil neem… So toe doen ek een van die min slim dinge in my lewe. Ek start vir Homer (ja, nadat ek hom eers weer volgegooi het), sien hoe die watertjies nog lekker by my Meyerton-maplotter-spoeg-en-plak job uitspuit, en draai toe staaaadig my clampie stywer, totdat die straal ‘n straaltjie, baie druppels, ‘n gedrup, ‘n nattigheid, ‘n droogheid word. Te bang om te hard na Die Smurf te roep, loop soek ek haar vir die belangrikste deel van die operasie: Die Voorgee Dat Ek Altyd In Beheer Was En Nooit Vir ‘n Oomblik Bang Was Dat Ek Dit Nie Sou Kon Fix Nie. (Ja, die bewerige bene, die koue sweet oor my hele lyf, die bebloede hande, die olie-merke orals en die feit dat ek nog een of ander draad wat ek per ongeluk afgeruk het een keer toe die tang gegly het weer êrens gaan moet vassit kon my moontlik weggegee het, maar gelukkig was sy op haar tweede wyntjie en easily impressed.) Vir dae is dit al waaroor ons kan praat – hoe amazing ek is. Wel, al waaroor ek wil praat – sy het om een of ander rede heeltyd die onderwerp probeer verander – wou my seker nie skaam maak met al haar lofprysinge nie.

Baie lang storie nog steeds redelik lank – ons het twee lieflike dae in J-bay gebly, elke dag ‘n skulpie op die strand gegooi, en can you f. believe it, al die pad huis toe gery sonder om ‘n druppel water te mors. “Vir enige meganiese herstelwerk aan jou motor, vragmotor, tuk-tuk, fiets of Matchbox-karretjie, kontak my gerus. Pryse baie onredelik en ontevredenheid gewaarborg.”

So dis Homer se “skade” storie. Sy nail biting, edge of your seat, are they going to make it?, is this even humanly possible!?, kalmeermiddels en defibrillator pads storie waar ons moontlik sterwe, kom binnekort. Don’t go away!

O, en vir die pedantiese, wil-elke-ou-oorbodige-feitjie-weet, vertel-ons-alles lesers: Die silwer ding was blybaar die waterpomp, en die verbrokkelde totter was die waterpomp se in- of uitlaat wat met die swart hosepipe water na die enjin of radiator toe vat. (Sorry, die mechanic se verduideliking het my verloor na “waterpomp”. Ek was te besig om te bloos omdat ek vir hom gesê het “ek dink dis die enjin se staalpyp wat verbrokkel het”. Om een of ander rede, na al die water, nie eers uitgekom by WATERpomp nie. Foeitog, Forrest.)

(Ek het darem nie gesê totter nie.)

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.