Oudtshoorn – volstruise, halfstruise en kwartstruise

Einde Mei begin die holtes weer geïrriteerd raak. (Ek wil nie sê ons gatte begin weer jeuk nie – bietjie bar.) Tyd vir ‘n road trip met Homer. Druk met ‘n songebrande swerwersvinger op die kaart en… Oudtshoorn sal dit wees. Kaartboeke word aan hulle ore nadergesleep, die beroemde kampboek word gevra vir sy opinie en die GaanPadSoek word teësinnig geraadpleeg. (Ek’s oortuig daai vrou wil ons laat verdwaal – ek hoor dit in haar beterweterige stem: “in 500 meters, turn left. Your destination will be nowhere in sight”.) Lyk my ons moet hier van Gordonsbaai af ‘n stuk oorbeur met die N2, en, aangesien ek ‘n swakte het vir passe en poorte, wegswaai deur Suurbraak (lieflike dorpie, liederlike naam) om deur die Tradoupas te kyk-ry-fotoneem-vergaap om by Barrydale aan te kom. Waar Diesel and Creme blykbaar wêreldberoemd (of ten minste Barrydale-beroemd) is vir hulle milkshakes en hamburgers.

(Daar word mos altyd eers vreeslik reviews gelees om seker te maak ons kry nie gekapte kakkerlak en kok-neushare kos nie.) So ons val in die pad met ‘n volgepakte Homer (ons raak nou al bietjie beter met dié tipe van ding – weet al waar alles moet kom, hoe om alles vas te pak sodat ons nie die heel pad die vrolike geklingel hoor van ‘n glasding wat gesels met sy buurman nie, en elke 23 km die slag van iets swaar wat sopas iets anders plat- of stukkend geval het nie. En ek het darem al die olie-check-strooitjie-ding gekry, en ek weet nou al ek moet sy brake-fluid check wat so ‘n stadige lekplek het wat ek na baie gesukkel en meer gevloek nie kan laat ophou drup nie en nou al leer verdra het, soos jou tannie Bertha wat jou op die mond soen by elke familie-byeenkoms. Tyres word gepomp, kop word gestamp met iedere inklim, ‘n sak goud word aan ons plaaslike petrolstasie oorhandig vir ‘n paar liter van die nodige, en daar gaat ons. Homer loop klopdisselboom – regte woord om te gebruik, aangesien ons nie veel vinniger as ‘n perdekar beweeg nie.

Die Tradoupas is toe indrukwekkend.  Dis rondkyk-en-uit-ons-baan-uit-en-in-die-aankomende-karre-se-baan-infoeter stunning. Dis opgewonde-maak pragtig. Hoë langs jou aan die een kant, en af ondertoe daaikant, met so ‘n verdwaalde, skaam stroompie daar gat-afval vêr onder. (Toevallig die Tradourivier.)

 

 

 

 

 

 

 

En gaan stop en kyk asb na die ou, oorspronklike bruggie wat nou afgeskeep en doelloos langs die pad staan en verval – hy’s eensaam en voel verworpe. 

By elke uitkykpunt word daar gestop, selfone vol fotos afgeneem en SKOON lug ingeasem. Weird om amper reuklose lug in te asem. Net so ‘n hint van groen – ‘n blarerige, bomerige, planterige reuk. Mens raak gewoond in die dorp/stad dat daar altyd ‘n verstopte drein walm of ‘n te-lank-laas-geservicede-bakkie se dieselrook stank jou neusgaaie verkrag. (Of, aan die ander kant, ‘n Spur gegrillde-patty roepstem of ‘n KFC eleven-herbs-and-spices verleidster wat jou neus gebruik om jou die sonde te laat doen…) Hier moet jy ruik om iets te ruik!

Honger gekyk en dors bewonder jaag (LOL) ons Barrydale binne. Dadelik Diesel and Creme toe – ons volg net ons kwylbekke. Sien die plek – baie maklik om te kry met hulle interessante motor-motief. Ou geroeste petrolpompe, eergister se motorfietse, vodde signs wat diesel adverteer, stukke van karre en ‘n kruiwa of twee. Lyk of Jeremy Clarkson hulle dekor gedoen het. Spring uit Homer. Val oor ‘n uithangende tong. Gly op ‘n speekseltjie wat al drup oor die Crocs en… hulle is toe. Liewe groen donner! Darem het hulle ‘n bordjie opgesit om ons in te lig dat hulle gelukkig net van die 28ste Mei tot die 15de Junie toe is. Moerse! So ons het hulle met een dag gemis! Nou voel ons nog slegter, meer hongerder en selfs effens maerder. My broek sit sommer ewe skielik losser, en ek oorweeg dit om ten minste hulle voordeur af te lek. Dalk het daar al oor die jare ‘n hamburger en milkshake geur in die glas en hout ingetrek… Maar Barrydale is mos voos van die eetplekke, so ons verloor nie moed of geduld nie. Ons verloor dit wel ‘n paar minute later toe ons tweede keuse se vloer opgekap is – hulle is duidelik besig om te renovate of goud of olie te soek – en ons derde keuse net afgematte toasteds maak. NIE NOU LUS VIR TOASTED CHEESE NIE! Tyd en plek, man. Tyd en plek. Nadat ons ‘n hele nuwe aar van vloek raakgeswets het, moet ons ‘n ent terugry na ‘n wynplaas en smul (ek’s sarkasties) aan ‘n lieflike bordjie olywe, kaas en koue vleis. (Jy weet daai tipe plattertjie wat jy bestel as jy nie regtig honger is nie, net wil wyn vat maar jy’s bang ander dink jy’s besig om alkoholis te raak nou bestel jy maar die cheapste, kleinste, minste bordjie kos op die menu sodat daar darem iets voor jou is wat soos kos lyk.) Virflippenseker nie wat jy bestel as jy al drie ure lank oorbodige spoeg moes wegsluk omlat jy voor jou uitgeteerde geestes-oog ‘n double cheese and everything burger en ‘n te-dik-vir-‘n-strooitjie milkshake bewonder nie… Maar these things happen. Beukes-luck is mos ‘n ding. Soos my huidige broer Conrad mos sê – sommige mense word met ‘n silwer of goue lepel in die mond gebore – ons Beukesse is met ‘n houtlepel met splinters in die hol gebore. Maar enough van ons talente en gawes. Dik geëet (ja, sarkasme) voert ons voort. Wynplaas en platter was darem nie ‘n total loss nie – Die Smurf, dis nou vroulief se regte noemnaam, kon darem een van hulle onbewaakte chilli plantjies kaalsteel van die lieflikste, gevaarlikste, gegaruanteed om jou hol more te laat spyt voel rooi chillitjies. Van daai wat sommer net van kyk jou boude al in afwagting te laat saamtrek. (TMI, kom ek nou te laat agter. Moving on…)

Gelukkig het ons ‘n baie goeie Plan D. In Calitzdorp, vir dié wie se ouers nie lief genoeg was om hulle soontoe te vat as kinders nie, is daar ‘n gastehuis-tipe plek met die naam Dorpshuis. Maar dit gaan nou nie oor verblyf nie – wat belangrik is, is dat hulle, die laaste keer toe ons daar was, die lekkerste boerekos gemaak het: Sagte, soet pampoen, spinasie soos wat jou oorlede ouma nog gemaak het (voor sy oorlede geword het) en SKAAPSTERTJIES waarvoor Esau sy geboortereg, twee beste kamele en sy timeshare in Bethlehem sal verkoop. Só gebraai om elke druppel geur uit die vetjies te kry, met doeksagte vleisies daaronder, wat jy soos ‘n hoendervlerkie afknibbel… Mens, drup ek nou sommer op my keyboard…

Soos wat die laaste molekules van ons olyfietjie/vleisietjie/kasietjie sample geabsorbeer word skree Homer se wiele soos ons tot stop kom voor Dorpshuis. Nou gat ons professioneel, industrieel, ERNSTIG eet. Sommer VREET man! Maar hoekom lyk hulle se deure so toe-erig…? Maar dit kan mos nie wees nie…? Toe – hulle is toe! TOE! Are you MF kidding me??? Ek en Die Smurf kyk mekaar platgeslaan, verstom, moedeloos en kosloos aan. Beukes-luck ken ons, verstaan ons, aanvaar ons. Maar die’s darem besig om nou persoonlik te raak. Hierdie onwillige hongerstaking ruk nou regtig dam onder die eend, stertjie van die skaap se gat af. Ons try gou inhardloop by twee ander eetplekke, maar na ‘n vinnige kyk en ‘n vinniger gril oor die tekort aan skoongeit hardloop ons gouer daar uit. (Naamloos sal hulle bly, om hofsake te vermy – al gaan ander onskuldige mense dalk wel voedselvergif daar uitsteier.) Nou moet ons maar, vaal en bewerig van die honger, deurstoot Oudtshoorn toe. Dom van die dungeit ry ek verby die laaste petrolpomp in Calitzdorp, en kom net verby the point of no return agter dat Oudtshoorn dalk net ‘n petrol station too far gaan wees vir Homer se dorstige enjin. Slack ons maar af in die hoop (ja, hoop sterf moeilik, selfs in ‘n Beukes-hart wat nou-al van beter moet weet!) dat stadiger spoed sal verander in meer afstand. Maar die petrolnaald kry ‘n lewe van sy eie, en begin vinniger as ‘n minister wat met sy taai vingers in die staats-till gevang is ‘n lawyer bel, afval na die E toe. (E vir “Ek moes petrol ingegooi het – dis hoekom ek nou langs die pad staan en my vrou my lank en deeglik berispe”.) Naderhand kan ek nie meer die dalende naald nie dophou nie, en vra vrou of sy nie vir my ‘n stukkie duct tape wil afskeur en aangee nie. (Met Homer se ouderdom en kwale is duct tape ‘n basic – iets wat jy altyd langs jou het.) Met vroulike vertroue in haar kan-alles-doen man (absoluut sonder enige bewyse of stawende gevallestudies in my meganiese vermoëns) doen sy so, en vra hoe ek dit gaan gebruik om ons met te min petrol in ‘n te ver Oudtshoorn te kry. En raak onmiddelik teleurgesteld toe ek my stukkie tape vat en dit bloot net oor die petrolnaald plak. (As jy iets nie kan sien nie, is dit nie daar nie.) Problem sorted. Nou kan ek darem weer op die pad kyk, en die naald betower my nie weer nie. Met Homer wat rondkyk in sy tenk vir ‘n laaste sluk, en ons wat so lig-boud op ons sitplekke hover, free ons Oudtshoorn in. (Weet nie hoekom ons dink as ons ligter sit gaan Homer meer frugal wees met sy petrol nie, maar as jy genoeg stress daal jou IK blybaar vinniger as ‘n motorhome se petrolnaald.)

Noudat ons veilig is, en die waarlik wonderlike reuk van vars petrol om ons sweef, word ek natuurlik dadelik windgat en vertel Die Smurf dat ek nooit bekommerd was nie, en die heeltyd geweet het ons sal dit maak with petrol to spare. (Wat natuurlik vir ‘n pot diaree gaan toe ek die duct tape moet aftrek.) Vol van petrol en leeg van kos ry ons in by Kleinplaas Holiday ResortHulle was nice genoeg om ons, wat sommer so in die ry van Calitzdorp af hulle gepla het vir ‘n onbespreekte staanplekkie, dadelik te help en welkom te maak voel toe ons, opgery, dungestress en bemoerd van die honger, net voor toemaaktyd daar stop – 474 km van die huis af, op (amper!) een tenk petrol. En Kleinplaas is net die plek as jy boude-natgesweet en kake-vasgeklem van die spanning wil ontspan en vergeet hoe jy sopas ‘n lelike egskeiding met 200ml petrol vrygespring het. En net die plek om my te laat dink Beukes-luck is nie altyd so bad nie.. Rustige, groot, boomryke kampplek. Met ‘n family-sized swembad – as jou familie olifante is. (Wat, omdat dit bietjie koud was toe, net gebruik was deur twee vrypostige eende. Wat kop-onderste-bo geduik het vir kos! Ek vra jou, wat dink hulle gaan hulle vang in ‘n blou-skoon swembad? ‘n Onwaaksame Kreepy?)

En sagte groen gras, waterkrane en kragpunte byderhand. En genoeg braaiplek om vir jou olifant-familie almal vleis te braai. (O.K. so olifante eet nie vleis nie – slegte beeldspraak..) Met van die skoonste, beter-as-jou-eie-huis, uitgeteelde badkamers met neersit en hangplek orals. (Vir ‘n kamper met handevol toiletries is dit belangrik!) En selfs toiletpapier! En baddens! (Sorry vir die opgewondenheid oor ‘n bad, maar ons het toe net-net Day Zero in die Kaap vrygespring, het nog aan water-onttrekkingsimptome gelei, so die baddens was vir ons ‘n herinnering aan ‘n beter, natter tyd… Foeitog… En die niceste mense op kantoor – niks is moeite of moeilik nie. Selfs toe die gemeenskaplike olifantbraaiers vir ons te ver lyk (net 20 treë, maar ons het darem ver gery…) het hulle summier vir ons ‘n persoonlike, staan-langs-jou-Homer braai gebring. Hout het hulle ook. Ons was amper alleen daar – dit was vreeslik buite seisoen – net ‘n beter, duurder, groter version van Homer daar – een van daai Mercedes motorhomes wat meer kos as ‘n trop Homers. (Ons het maar oogkontak met die Merc vermy en net neerhalende opmerkings daaroor gemaak, om Homer se gevoelens te spaar. Maar ai, as ons eendag groot is…)

Maar ons het nie nou tyd nie – ons moet kosplek soek! Ons is net in, staanplek gekies, badkamers bewonder en gebruik en weer uit. Tyres fluit om die draaie (ja, weereens.) en reguit na Headlines, ‘n unieke eetplekkie daar naby (afstand is nou baie belangrik!). Hulle het posters van R&R sterre en famous people orals, ‘n musiek-tema dekor en vriendelike, hulpvaardige wagteresse. Ons is die enigste mense daar, so natuurlik moet ons die plek deursnuffel, alles bekyk en betas. Ook maar niks gewoond nie…

 

 

 

 

 

 

Bestel ribbes en ons eerste volstruisfillet van die naweek. Mmmm, ek proe nou nog hoe smelt daai filletjie in my mond, met sy lieflike vollyf geur en eet-nog smaak. En sagter as wat ek dink vleis wettiglik mag wees. Dit was amper ons hongerstakende trippie werd! Rond geëet met tevrede glimlaggies om blink bekkies ry ons (stadiger) huis toe, vat ‘n heerlike sterk, stoomwarm, spuit-jou-van-jou-voete-af stort (ons persoonlike stort by die huis is flouer as ‘n ou man met prostaatprobleme se middernag pie-pie) en kruip tevrede in Homer se te-kort en te-smal bedjie. (Sorry Homer, maar jy weet hoe my kop elke aand teen jou “muur” getonk-tonk het elke keer as ek probeer omdraai.)

Volgende dag vroeg is ons op pad – ons moet begin by die Cango Wildlife Ranch Bietjie van ‘n tourist trap, maar hulle trap die tourists want dis seker een van die min plekke waar jy pienk flaminke, lemurs, pygmy hippos (dis nou bonzai seekoeitjies), luiperds, tiere, vele voëls, krokodille, leeus en baie meer kan ontmoet, waar hulle darem nie outydse dieretuin-gewys op hok moet staan en jammer lyk vir hulself nie. Gidse wat actually baie goed ingelig is en interessante feite versprei, is ook handig naby om ‘n gewone deurstappie in ‘n lewendige, direkte uitsending, Biologie-klas te verander. Jy kan ook (vir ‘n ekstra fooitjie, natuurlik) ‘n persoonlike ontmoeting met van die gediertes reël. Ons kon kies tussen ‘n boa constrictor, lemurs of cheetahs. Omdat ons ons is, kies ons die boa. (Wetenskaplike naam is Moerses slangus.)

Hulle drapeer die hosepipe-op-steroids oor my nek soos, wel, soos ‘n regte veerboa. Dié boa lê net nie mooi stil soos die vere-een nie, hy (sy? ek weet nie waar om te kyk of waarvoor om te kyk nie) wil explore, my elke crevice en orifice betong en beloer en, aangesien ek dit soveel vertrou soos ‘n dronk evangelis, probeer ek hom buite hap- en insluk-afstand van my hou.

Maar dis amazing om net ‘n koue-sweet afstand van so ‘n pragtige slang  te wees – hy’s koel, droog en glad. En jy voel sommer hy’s ‘n bondel vloeibare-staal spiere toegedraai in vel – soos ‘n slanker (maar ewe lank) Eben Etzebeth. (Slang Eben gaan dalk net bietjie sukkel om die bal te beheer – kort bietjie meer hande en voete…)

Daarna, nog bewerig van die opwinding stop ons vir proviand by de Oude Meul Country Lodge – net so ‘n ent aan verby CWR.

(Weereens is ons die enigste mens daar – een van die baie voordele om buite seisoen rond te toer. Waar jy vakansietyd jou kar moet offer as beloning vir die kans om ‘n minuut of twee van ‘n kelner se aandag te kry, breek daar nou orals waar ons gaan ‘n bakleiery onder hulle uit vir die eer om ons, as hul enigste kans vir ‘n tip, te bedien.) Maar terug na d.O.M. – dis eenkant, netjies, pragtig, ingesnuggle in ‘n klowerigheid – dit lyk soos jou ryk oom by wie jy nie gaan erf nie se privaatplaas. Met hasies, ponies en bokke om jou te amuse terwyl jy teug aan jou Jamaican koffie met ‘n skeutjie rum in. (Hey, dit was winter en koud, man!) Na dié voorgereggie kry ons iets te ete: Eers ‘n “Carpaccio Trio” (vir die Meyertonners tussen ons – dis drie verskillende soorte rou vleis) – krokodil, smoked salmon en natuurlik volstruis wat stunningly stylvol in glasies voorgesit word, en njammies sag, glad en soek-nog lekker in die mond smelt.

Daarna betrek ons weer ‘n volstruisfilletjie… *Vee herinnerende kwylseltjie van mond af.* My volstruis, maar dis lekker! Trump se aantal uitroeptekens en all caps lekker… Sooo sag, jy kan dit met ‘n lepel sny as jy nie bang is vir dronk lyk nie. En SMAAKLIK! Volstruis word net daar my gunsteling vleisie – regtig, hy praat baie lekkerder saam met jou tong as boring ou hoender of al-gatvol-vir bees. Dik gevreet en vol ‘struis help ons mekaar na Homer toe, kry die laaste kelner afgeskud wat vir oulaas ons ‘n massage en Homer ‘n vinnige was wil gee, en skiet gou deur na Grundheim Wines toe. Die, vir julle wat beskermd groot geword het, is ‘n wynplaas so ‘n entjie voor Oudtshoorn, as jy van die regte (Kaapse) kant af kom. Hulle maak smiles in bottels – rooiwyn, soetwyn, port, likeur, brandewyn, gin en alles wat lekker is. En die vabonde gooi nog vir jou samples ook, dat jy eers jou natuurlike suinigheid kan verdrink en uitstap met bokse, i.p.v. bottels, soos jy beplan het… Ons het jare terug een keer per ongeluk daar uitgekom, en na ‘n paar samples van hulle lieflike, trou-met-my likeure en porte en soet wyne, het ons met ‘n huispaaiement se bottels daar uitgestrompel. So nou wil ons weer so maak. (Leer mos nie.) Daar aangekom, maak ons of ons hulle werk glad nie ken nie, sodat ons alles weer moet proe. Ons werk die likeure deur, slaan ‘n paar soetwyne oor die kop, en hoor toe dat hulle nou gins ook maak… Ai tog, wat kan mens sê behalwe: “Jong ek drink eintlik nie gin nie, maar ja dankie, gooi maar bietjie daar laat onsh proe…” Flippen lekker – verkoop-jou-skoonma-se-laaste-pantie-daarvoor lekker. Maar toe sien ek die botteltjie Brandslang daar eenkant staan, asof hy stout was. Loer die botteltjie met oë wat nou ‘n frons kort om te fokus, sien dis ‘n rissie witblits/mampoer besigheid, sien daar dryf regte-egte rissies binne die bottel, en met die selfvetroue wat 13 samples gee, oortuig ek ons gasvrou om ‘n glasie nat te maak daarmee. Is mos man, is mos sterk, is mos leun-dronk, is mos lekker stupid, so ek gooi vir Klaas sommer heelhuids in die keel af. Hy raak eers kante toe hy in my maag kom. En twee nanosekondes later weet ek ek het nou ‘n huge mistake gemaak! Liewe bliksempie! Hy skroei my binneste soos ‘n blaasvlam, alle beheer oor my stem en asemhaling gaan vir ‘n pot poefie, ek steier rond met uitgestrekte arms soos ‘n dronk zombie, en soek hulp by my liefdevolle vrou… Wie bloot liggies giggel vir my en nog ‘n slukkie aan haar nuwe liefde vat – ‘n Black Mountain Gin… Ai, die huwelik darem – support, ondersteuning en empatie. Se gat. Nadat ek darem van die ergste posbus-rooi in my gesig onstlae geraak het, vat ons ons volgende mediese-fonds paaiement se boks assorted wyne, likeure, gins en ja, twee botteltjies Brandslang en probeer Homer buite vind. So bly hy’s so groot, want as ons met ‘n Uno daar aangekom het, het ons nou-nog daar rondgesoek. Twee Brandslange, want dis eintlik lekker – hou net jou asma-pompie en inspuitnaald adrenalien byderhand want jy gaan issues kry met jou hart en asemhaling. (En een botteltjie Brandslang moet na Die Smurf se broer – die klein stront verdien ‘n bietjie straf vir al my drank wat hy al opgedrink het. Vat so, Tommie! Al wat snaakser is as om jou te misgis met die sterkte van ‘n dop is om dit aan ander niksvermoedendes te gee met geen waarskuwing dat hulle die volgende twee minute hulle oorlede ouma weer gaan sien nie.)

‘n Vinnige stop by die Klein Karoo Ostrich Emporium – om wyd-oog te hakkel oor die pryse van “genuine ostrich leather” produkte. Wragtig dra ek maar eerder my ou regte nagemaakte leerbelt met die ekstra vet-geword gaatjies wat ek self later moes indruk! Darem kon ons daar bietjie opstock met ‘n armvol volstruisvleis – net om die vakansie-feeling so bietjie uit te rek as ons by die huis kom. Terug Kleinplaas toe. More huis toe. *Traan-oog emoji.* Ons naweek het maar sterk gesuig aan die begin, maar ons kampplek, die diere, die volstruise (allerhande sizes lewendig langs die pad en minder lewendig maar lekkerder in ons borde), die mooi paaie en passe, die drankies, die kos, DIE KOS!!! het meer as opgemaak daarvoor en Beukes-luck ‘n heel nuwe, positiewe betekenis gegee. Net tot ons die volgende oggend, alles netjies ingepak, uitry by ons staanplek, bo-oor ons plastiek trappie wat ons NIE ingepak het nie… Soos in heeltemal flenters. Soos in oorlede. Soos in “The Return of the Beukes-Luck.”

Die nog-nie-oorlede-nie trappie

 

2 Antwoorde op “Oudtshoorn – volstruise, halfstruise en kwartstruise”

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.