Glentana – wraktig pragtig!

Vroeg April begin ons kampvoete alweer jeuk – was mos ‘n maand laas op die oop pad met ons motorhome Homer. So die onttrekkingsimptome begin – die huis voel te vas op die grond, het te min wiele en ons verlang na die alomteenwoordige petrol-parfuum en mis die opgewonde afwagting dat Homer ‘n terminale siekte gaan optel of plain-weg net gaan omwaai in ‘n sterk wind. Sommer baie vinnig en sonder enige skaamte word die kampgids nadergetrek en besluit ons impulsief ons moet Glentana toe. (Of Geentanne, soos party van ons Capies.) Glentana Caravan Park, om presies te wees. Waar ons nog nooit was nie, geen inligting van het nie, maar die gids sê hulle laat troeteldiere toe, en dis ons belangrikste oorwegingspunt. Alhoewel Pieks – ons gevreesde Chihuahua wie bepaal waar ons kan en nie kan kamp nie – jou sal byt (of ten minste ‘n smerige kyk gee of ignoreer vir ‘n halfuur) as jy vermetel genoeg is om haar ‘n troeteldier te noem. Sy’s mos mens…

Vroegoggend (na ‘n paar grot-agtige gape van my en ‘n magtige gespook om Vroulief en Pieks op, skoon, aangettrek en ge-pie en gekoffie te kry – sommige van daai nie op altwee van toepassing nie) val ons in die pad. Vir net ‘n paar kilometer, want by die uitkykpunt op Sir Lowry’s Pass moet eers afgetrek, uitgeklim en teruggekyk word oor die hele baai, met Tafelberg klein in die verte. Daar moet ook gekoffie word, vir veiligheidsredes. (Ooglede het loodskoentjies aan.) Ons het die sonnetjie amper gewen – hy’s ook net-net op en begin nou-net eers maar traerig die rotse om ons inkleur. Pieks word ook die panorama gewys, maar sy gee net ‘n vinnige bewe, ‘n langer pie en kruip terug in haar se bedjie. Nog te vroeg vir Precious…

Ons beweeg aan, raak gou weer gewoond aan die gewieg van Homer, en die gevoel dat jy nooit regtig in beheer van die kolossus is nie. Jy’s meer van ‘n test pilot; ‘n volunteer om ‘n nuwe, onbeproefde voertuig die kans te gee om jou oor die naaste krans te neem. (Om een of ander rede speel Thelma & Louise heelpad in my kop as ons êrens heen ry met Homer…) Vroulief se derde koffie vat uiteindelik grond en sy insist dat sy ook wil speel met ons lewens en bestuur. Doodgerus (pun intended) sit ek terug in die passasiersitplek en wonder of al my polisse op datum is. Homer se clutch is mos maar moeilik, en hy’t een van daai rathefbome wat hier LANGS die stuurkolom vas is, en die ratvolgorde is soortvan onderstebo, as jy aan ‘n Corsa of Nissan bakkie gewoond is. Wat ons is. Anyway, ons ruk glad weg, en hop vrolik deur die ratte die pad af. Ek en Pieks maak wel fronse toe  sy op ‘n stadium woorde wissel met die gearbox. Sy soek-soek so deur die box, kry tweede rat aan sy ore beet en pluk hom nader. Tweede skrik sy olie af – hy het (soos ons) gedink ons soek eintlik nou vir vierde. Wonderbaarlik is ons nou in tweede, en nadat ons almal rekmerke geruk het, Pieks opgetel het en teruggesit het in haar bed, en self weer teruggeskuif het in ons sitplekke, vra Vroulief vir die gearbox “Wie is dit nou?” (Nooit geweet ratte het name nie, maar Egbertus Eerste, Trompie Tweede, Doris Derde, Fanie Vierde en Vinnige Vyfde kan dit seker wees.)

Dwars met die N2 oor na Mosselbaai toe spoed ons voort. (Kyk, ek weet dis net 80 km per uur, maar met ‘n blokhuis op wiele is mens easily impressed met net ‘n skilpadvol spoed.) By Danabaai, so ‘n spoegsel voor Mosselbaai, moet ons eers af en in. Ons het mos self daar gebly so ‘n halwe hondelewe terug, en ons moet eers gaan spy op die vermeteldes wat nou in ons vorige huise bly. Ja, huise – om een of ander onnosele en vinnig beroude rede het ons net ‘n jaar in ‘n pragtige huisie gebly en toe drie blokke getrek na ‘n koue, wind-waai-reguit-deur, dak-lek-pryse-los kasarm van ‘n plek. Kasarm het iets soos vier slaapkamers, ‘n moersgroot sit/eetkamer en ‘n buitestoep waarop jy kan tennis speel. Maar dis O.K. want ons is mos ‘n hele twee mense, en ons het al die plek nodig?! (Maar ons het darem lekker wegkruipertjie in die huis gespeel…)

Maar nou dwaal ek af en smeer heuning met twee vlieë om die mond van die aap uit die mou. Wat ek wou sê is: Danabaai is nog steeds mooi – ek sal more weer suintoe trek as my bankbelans en rugwerwels dit sou toelaat. (My rug het gegroet in die groot trek van 2010.) Omdat dit op ‘n hogerige heuwel/steilte is, het amper elke huis ‘n see-uitsig, en die twee strande daar heel onder kompeteer vir mooigeit. (‘n Vinnige mooi storie: Toe ons afgetrek het na Mosselbaai van die grieselrige Gauteng af, was daar nog braaigeriewe by  die twee strande se parkeerareas. Sulke flenters-gestampte gebreekte baksteen gedoentes, maar jy kon vuur maak en ‘n wors warm kry. Wat ons die heel eerste aand gedoen het. Op die foto kan jy nou-nog die absolute verwondering op my gesig sien – ek kon nie glo dat mens op so ‘n mooi plek, spoeg-naby aan die see, mag wors braai  nie…) Op ‘n helder dag in Danabaai kan jy so links-af kyk, strand-langs verby Boggomsbaai, verby Vleesbaai tot by die mooi-rooi rotse in die Fransmanshoek bewaar-area daar doeeerrr… Ons het tot in walvisseisoen die groot manne en vrouens van ons huis af sien speel en stert waai – ai, weet jy…

 

 

Ons verlang sterk genoeg terug om selfs in die sifdakhuis weer te bly… Maar ons moet aan – Glentana is dalk mooier! Maar ons wonder bietjie oor die uitkom – Danabaai is teen ‘n hemelse steilte gebou, en die paadjie op, op en uit, is aan die opdraande kant. Ons gee gas, petrol en ‘n bekommerde poep of twee en beur eers in Danie Derde en later in Tommie Tweede daar uit. Maklik soos omval-as-jy-dronk-is! Nooit eers vir Erika Eerste nodig gekry nie. Daarna moet daar darem net eers deur Mosselbaai gery word en spyt kry dat ons hier weggetrek het. Baie nuwe winkeltjies en eetplekke. En natuurlik die roomyskarretjies op Die Punt… En Die Punt Karavaanpark is gePAK! Daar’s nie plek vir ‘n Ma en Pa bosluis en hulle vlooitjie-troeteldier nie. Mos Aprilvakansie, onthou ons. Ons draf die lekkerste grilled hake deur by ‘n nuwe (vir ons, wat lank laas hier was) Griekse restaurant, en druk volpens deur Glentana toe, en dan ondertoe-af Glentana Caravan Park toe.

En is dadelik verras en beïndruk. Die feit dat hulle Piekse aanvaar, het dit vir ons ‘n no-brainer gemaak, maar die mooi, skoon, besondersheid daarvan is ‘n nice bonus. Dis toe ‘n bonzai karavaanplekkie – net so 50 staanplekke in ‘n langwerpige parkie, wat dit cozy en persoonlik maak. Maar wat dit spesiaal maak, is dat dit agter ‘n toegegroeide duin weggesteek is, met ‘n groen grastapyt wat my grasperk by die huis laat lyk na die Etosha panne. Die duin voor beskerm almal binne van die lastigheid en koue van die seewinde, en is oortrek met bosse, bome en plantegroei. Agter is daar ook ‘n duin, oortrek met groen goeters, so dit voel of al ons kampeerders sommer so toegevou word tussen die planterigheid, soos ‘n duin-Swiss roll. So wind se gat, en as jy see wil sien, sand onder die voete voel of stok vat en vis verbouereerd maak, is dit net ‘n vinnig uitstap by die hekkie en orie-duin dan’s jy oppie beach. Sekondes, man! Dit word dadelik een van ons favourite plekkies. En die plekke vir nood, fluit, druk-besig wees, veg met die bruinbeer en ander eufemismes vir nommer 1 en 2 maak is onberispelik skoon, OCD-netjies en pragtig uitgeteël. Soos in nou-net oorgedoen – die ekstra ongebruikte teëls sit nog verwerp en seergemaak net hier om die hoek. Ons gryp sommer die eerste staanplek wat jy kry as jy inkom – nommer 1, toevallig. Dis amper gemaak vir Homer – baie klein, en omdat ons geen kar of tent het wat plek vat nie, is ons van die min mens wat dié staan kan staan. (Die ander staanplekke is oorgenoeg groot, maar ons is nie vraatsig nie, en ook lui – 1 is naaste aan die strand.) En 1 is snoesig ingetuck reg langs die duin en onder dié se plantegroei, so dit kom nogal met ‘n gratis oorhangboom wat meeste van die staanplek lekker skadu gooi, met die braaier diep onder die boom gebou. As jy uitstap by die hek, is daar ‘n winkeltjie met die nodige (tjippies en swieties) en die noodsaaklike (hout en roomys) en ‘n eetplekkie (Die Visgraat). Amper op ons stoep. (Ons kort net ‘n stoep.)

Die strand – regtig net ‘n paar groot treë ver – is diep gegooi met die sagste sand. Gemaak vir ‘n handdoek of ‘n sitding en ‘n goeie boek. Maar die los sand maak toe probleme vir Pieks. Vir ‘n verandering nie in die arms, maar op eie been en op haar nuwe, sterker halsband, sak sy toe met die eerste tree tot by haar diff weg in die versiersuiker-sand. Maar vroumoedig beur sy voort – die maer, kort beentjies moet hier bo verby die skouers getel word om dit uit te kry en verdwyn dan net weer heeltemal met haar volgende tree. (Soos wat met ‘n oor-optimistiese Boksburger se ’83 Escortjie  gebeur as hy dink hy kan ook mos los sand handle, net omdat dit ‘n groot radio met groter distorsion het, en van daai plastic “mags” ophet wat jy by Game koop en met cable ties aan jou oorspronklike rims vastrek.) Ons help haar uit, (sodra ons klaar gelag het) kry elkeen ‘n vuil kyk, en dis weer arms toe vir Princess…

Met die oorhangboom in plek, MOET daar sommer die eerste aand al gebraai word, onder ons boom. Haal ons nuwe kamptoerusting (met die pryse nog aan) uit, steek hout brand en vliksems vinnig kry ons ons eerste gas – ‘n hottentotsgot, pragtig groen aangetrek om by die gras en omgewing te pas. (Seker op pad na Tolla se insekte-kroeg toe. Onthou julle Die Bosluistepel?) Hy (sy?) (dit?) kom sit ewe kordaat op ons nuwe wit tafel, om mooi uit te staan en aandag te trek. Draai sy ET koppie belangstellend rond en beskou alles krities. Ons voel sommer hoe ons as kampers geweeg en te lig bevind word. Laat hom ook nie sommer verwilder nie – maak net grootoog en stywe nekkie as ek hom wil wegpor met ‘n pen. Erens gehoor die goed kan byt, maar nog nie geGoogle nie, so nie seker nie, net versigtig. Natuurlik toe hy sy vlieg kry, kom hy reg op my af – na my gesig toe. Met ‘n baie onmanlike gilletjie steier-val ek terug, weg, agtertoe en daar’s hy darem verby my. (Gelukkig was Vroulief toe in die mooi badkamers, so sy gaan eers van hierdie trotse oomblik van my leer as sy dit hier lees…)

Soos gewoonlik raak Homer bietjie aandagsoekerig. Sy battery charger sisteem se liggies begin flikker soos ‘n krismisboom. (Die b.c.s. is ‘n ekstra battery wat alles in Homer aan die gang en koud hou as ons ry, ‘n ander ding met liggies op wat (dalk) wys presies wat op daai oomblik met die krag gebeur en nog ‘n ander watsem met liggies wie se job ek nog minder seker van is. En natuurlik drade orals wat al die geheimsinnighede koppel aan mekaar – lyk of ‘n bol drade doelbewus losgespeel is deur ‘n moedswillige kat met rubbervoete en ‘n graad in elektromeganika.) Ek het die manual by die vorige eienaar gekry, maar dit lê veilig by die huis in ‘n file. Slim. Dis nou spesifiek die watsem se liggies wat begin flikker en ongelukkig lyk. Ek doen my electrician impression, wat basies behels om hoopvol aan alles te tik, en saggies aan al die draadjies te trek. Nie heeltemal seker wat ek dink dit sal help nie, maar na vyf minute van dit kan ek darem vir Vroulief sê ek het “Daarna gekyk.” Sy’s impressed en ek voel manliker. (En ek het dit nodig na die hottentotsgot terugslag…) Gelukkkig bedaar die liggies later vanself, en net dié wat gewoonlik brand, brand. Ek weet nog steeds nie wat dit beteken nie, maar dit lyk darem bekend. Ek claim summier dat dit is as gevolg van my gepeutery. (As jy swaar getroud is, permanent agter op punte is by jou vrou, moet jy maar jou victories vat wanneer hulle kom, al is hulle ook maar skaars, skraps en lieg-dun maer.)

Volgende oggend moet ons wrak gaan kyk. Die wrak is dit wat oor is van ‘n “floating dock” wat in 1902 deur die Britse skip, Baralong, hier verby gesleep is op pad Durban toe. ‘n Strawwe storm later breek dit los en na baie vergeefse gesukkel deur almal betrokke het dit uiteindelik, ongelukkig en permanent sy onbeplande tuiste gevind op die strand so ‘n uur se rustige skulp-optel-stap van Glentana se hoofstrand af. (Blykbaar is die storm-storie waar – as dit NOU sou gebeur sou mens dadelik korrupsie, slegte vakmanskap of ‘n tender aan ‘n onbevoegte maatskappy vermoed het.) Ons time ons stappie net reg, aangesien die hooggety jou kan vaskeer as jy nie betyds terugkom nie. Wrak is ‘n groot woord vir wat oorgebly het – dit lyk meer of iemand ‘n speelpark op heeltemal die verkeerde plek gebou het en nou roes al die aparte, los stukke staal verkriklik vinnig (en mooi) op. Dit word bekyk, bespiegel oor wat wat was en gepose by. ‘n Selfoon se SD card vol fotos later, moet ons begin al-vinniger terugstap Homer toe – bang vir die gety mos. Daar is ruwe rotse wat rond lê en suntan orals, en ook ‘n paar oor-rotse-klim plekke en natuur-gemaakte splash pools.

 

 

 

 

 

 

Dis alles weer-doen lekker, die see is verlief-mooi en die kranse hier net langs ons is vol interessante plantegroei en hier en daar ‘n weggesteekte huisie van ‘n baie bevoorregte bliksem. Veilig terug is die strand (ons strand) langs die karavaanpark oop, wyd en mooi.

 

 

 

 

Visvangers (sorry, hengelaars) staan stok-in-die-lug en silhoeët maak teen die sakkende son en (ek raai) gee nie so baie om as hulle leë hand moet huis toe nie. Met so ‘n bekoorlike uitsig, die vars see-reuk in die neus, ‘n laaste geskree van ‘n sloererige meeu en ‘n sagte sandmat onder moeë voete vergeet mens maklik van vis, en enige haastigheid huis of Homer toe…

Daai aand, ons laaste aand, gaan eet ons saam met ou Mosselbaai vriende. (Ou, soos in ons ken hulle van ons ou Mosselbaai dae af. En ou, soos in hulle sal ook binnekort moet begin om aftree oorde se pryse en fasiliteite te vergelyk. (Sorry, Hans en Renette!) Ons gaan eet by ‘n “properse” restaurant, soos Vroulief dit toe noem – blykbaar omdat hulle nie fotos van hulle kos op hulle menus sit nie. Die laaste mens wat properse in ‘n sin gebruik het, was my ma, baie jare terug. Vroulief gee dus daardeur ook bietjie haar begin-die-grys-hare-wegdye-geit weg. Intelligente, opbouende, sprankelende gesprekke, staaltjies en stories vloei soos die rooiwyn terwyl ons eet. (Obviously het ek maar net geluister.)

Volgende oggend moet daar weer op- en ingepak word. En weer voel dit poefierig. Mens (en Pieks) wil net nie weg nie – dis te moooooiii!!!! Maar nou ja, darem was ons op ‘n properse kamp, kon weer breë bors asemhaal aan vars, vannie-see-af lug, met goeie vriende kuier, battle met Homer se elektrisiteit en dodelike goggos (one win and one loss) en met seesand tussen die tone en boude terugstoot huis toe.

Een antwoord op “Glentana – wraktig pragtig!”

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.