Titanic 2 – Die Hartseerder Sequel

Toe ons 2 liter Coke (met genoeg Klipdrift ingemeng om ‘n vasektomie op ‘n olifant te kan doen sonder dat hy ‘n slurp roer) oorboord val en onder die water verdwyn, weet ek ons Dom Sawyer/Huckleberry Dim vlotvaart was ‘n kak idee.

Kyk, dit het op ‘n goeie plek en tyd begin. Die plek – Glen Donald, om presies te wees. Vir die wat nie Aardrykskunde tot matriek gehad het nie, dit is ‘n klein stukkie aarde tussen Risiville (wat op sy beurt langs Peacehaven wat op sy beurt langs Vereeniging is) en Riversdal – ‘n walglike woonbuurt van Meyerton. (Meyerton was toe die aambei op die pitsweer wat die Vaaldriehoek was – no offense.) Glen Donald was aan die verkeerde kant van die treinspoor, wat die Vereeniging distrik van Meyerton s’n geskei het. (Nee, regtig – daar was ‘n genuine, actual, letterlike TREINspoor. Met treine. Daai tyd. Nou’s daar net bossies en gesteelde sleepers.) En nogal ‘n grondpad tussen Rissiville en Riversdal. Glen Donald bestaan uit ‘n klompie plotte – of kleinhoewes, as jy Hyacinth Bucket is. (YouTube gerus “Keeping up Appearances” – as jy nie ten minste smile nie, lek ek jou kieliebakke.)

En die tyd was 1984. Aaaahh, toe manlike popsangers nog make-up kon dra, hulle hare groter as Maggie Simpson kon blaas en uitrustings kon aantrek wat ‘n drag queen sal laat bloos, en ons nie vir een oomblik hulle seksuele oriëntasie betwyfel het nie. (Was dit die lood wat toe nog in petrol was, wat ons so onskuldig/naïef/dof gemaak het, of die feit dat meeste van ons mammas toe nog kon rook tydens swangerskap?) Maar 1984 is net vier syfers – om die atmosfeer regtig te skep en julle saam met my terug te neem in een van daai swirling dream/flashback sequences het julle meer nodig. Dalk help dit: Footloose, Jump, When Doves Cry, I Can Dream About You, Dancing in the Dark… (Pouse terwyl ek ‘n verlore-jeug traan wat afbiggel oor my geplooide wang bewerig afvee met ‘n lewervlekkerige hand, terwyl die verpleegster my Parkinson’s medisyne begin afmeet.)

But I digress. (Hallo, my ou vriend Alzheimer!) Dis Glen Donald, 1984, waar en toe mans nog mans was en porn die Scope en Lag ‘n Bietjie Daar was. Toe’t vrouens nog sterretjies vir nipples gehad. Die eerste keer toe ek ‘n girl oortuig om haar jie-haaaa’s vir my te wys dog ek sy’s gebreklik. Toe maak ek die fout om haar te vra of sy gebreklik is. TOE sien ek sterre…

In elk geval – ‘n paar weke voor die Coke-astrofiese vlot-op het ek en my vriend Scott eers ‘n bietjie gaan kano ry. (Vaar?) Net om ons matroosbene bietjie te ontwikkel ter voorbereiding vir die meer demanding vlot-ekspedisie later. (Jy kan seker maar sê ons wou seker maak dat alles sal vlot verloop…) Die feit dat ek nie die sterkste swemmer op die aarde was nie – bakstene dryf beter – was nie hier of daar nie.

Scott was korterig, ek was te lank. (Ek’s nog steeds te lank.) Hy was ‘n normale breedte, ek was te maer. (Ek neig deesdae sterk na die ander kant toe.) Hy het nice donker krulhare gehad, my muislike hare het permanent plat geval en bly lê soos ‘n sokkerspeler wat ‘n penalty soek. Saam moes ons soos ‘n meer kleurvolle Laurel en Hardy gelyk het – nie net omdat die oorspronklike L en H wit en swart was nie, maar onthou asb ook die bont modes van die 80’s. As jou klere se kleurskema nie ouer mense laat terugdeins en soek na ‘n welding helmet om meeste van die helder reënboog-agtigheid te breek nie, was jy nie reg aangetrek nie.

Terug na die actual storie toe – weer. Ons het my pa se kano “geleen” en afgedra rivier toe. (Die storie sou baie korter gewees het as ons nie langs die Kliprivier gebly het nie.) Kano in rivier, roeispaan in kano, en daar gaan – nee wag, amper vergeet ek die belangrikste: Wat ook moet in is ons proviand, die vloeibare verversings wat ons deur hierdie lang en moeilike dag op die oop rivier moet deurdra tot by ons bestemming. Die v.v. was twee six packs, (ek wil sê Lion Lager?) en ‘n bottel amper-ondrinkbare mint likeur, wat my pa vir ons trippie geskenk het. (Met geskenk bedoel ek natuurlik ek het dit uit sy drankkabinet gesteel. Dit het my dae van soek gekos om agter te kom waar hy die sleutel weg steek. Ook maar hartseer as ‘n pa nie sy eie persoonlike seun vertrou nie…) So, goed gewapen met twaalf warm biere en ‘n bottel waarlik-afstootlike likeur, bestorm ons die wye dieptes van die magtige Kliprivier. (Ek spot nie – party plekke is dit meters breed en hier en daar so diep dat jy kan induik sonder om met ‘n modderkop anderkant uit te kom.) Ons roei stroom-op, sodat ons na “middagete” net moeiteloos kan terugdryf huis toe. Eers gaan dit moeilik, maar twee biere verder tel ons so spoed op dat ‘n lekker wake hier agter ons kano vorm – ons kon iemand agter ons laat ski het. Maar die rivier word nouer, die stroom sterker en ons maer armpies moeg. Besluit ons om kano eers vas te maak aan ‘n handige tak wat oor die stroom hang, ‘n bietjie terug te sit en fles te vat. Die stroom is daar ook vinnigerig, wat maak dat die neus van die kano so lekker heen en weer beweeg, en die indruk skep dat ons nog steeds fluks vorder. Nog ‘n bier later raak ek verveeld en my evil twin kom uit vir ‘n bietjie vars lug… Wat, dink ek by myself, sal gebeur as ek nou die neus van die kano so dwars-stroom druk dat ons die hele fors van die rivier teen die kant van die kano kan voel? Wel, die kano donner om, kom ek toe vreeslik vinnnig agter. (So ook ‘n verbaasde Scott, wat ek  nie ingelig het van my eksperiment nie)

Die een oomblik sit ons nog altwee plat-op-die-gat en bier sluk, en die volgende oomblik is ons onderstebo, en besig om rivier te drink. (As ek vir langer as een oomblik daaroor gedink het, sou ek besef het dat dit moet gebeur – dwars druk die water mos obviously die kant van die kano ondertoe, die water kom op, oor en dis dit. Om is jy. Nie eers tyd vir ‘n “Shit!” nie. Onmiddelik is daar pandemonium. Want ek kan sien hoe my pa se kano se roeispaan vinniger-as-wat-ek-kan-swem stroom-af verdwyn. En Scott is weg. En die kano is soos in heeltemal onderstebo en as dit sink het ek meer stront as ‘n munisipale gebou se deur gedurende ‘n protes-aksie. En die bier! Die likeur! Ek probeer naarstiglik die kano regomdraai (dis onmoontlik – my voete raak nie hier grond nie – dis een van die diep plekke) die bier en likeur red en Scott opspoor. Gelukkig pop ‘n baie nat en bemoerde donker krulkoppie soos ‘n BEE goldilocks net toe aan die anderkant van die kano uit. “Waddedonnerhetjygedoenjoustupidblik…” is al wat hy uitkry voor hy weer onder die lieflike bruin rivierwater verdwyn. (Mos korter as ek, en ook nie familie van Michael Phelps nie.) Kom hy weer bo gaan hy verder met sy sin – “…sem!?”

“Moenie nou worry oor onbenullige sakies nie”, vertel ek hom. “Loop swem agter die roeispaan aan, dan try ek die kano omdraai.” Ek het nie geweet mens kan mompelend swem nie, maar Scott het dit effortlessly reggekry. Sy mompels was nie baie vleiend nie, en het volgens my heeltemal te veel gefokus aan my gebrek aan intelligensie, common sense en seemanskap. (Maar die stress van die situasie het hom seker maar onredelik laat optree – ek het hom amper dadelik vergewe – ons maak almal foute.) Ek maak toe maar solank die kano los van die tak, trek dit uit die ergste van die stroom, tilt die ding ommerig dat die water kan begin uit, en kry dit naderhand omgekeer dat die res van die water ook kan ontsnap. En toe sien ek wonderwerke gebeur nog, want ons orige biertjies het met die omslaan onder die rand van die kano vasgehaak, en lê rustig en wag vir aandag. Wat ek toe dadelik vir een van hulle gee. Mos nou-net by die dood omgedraai, mos! Ek kom uiteindelik agter ek wag nou vreeslik lank vir Scott. Kommer oor my beste vriend veg teen my on-lus om hom te loop soek en kommer verloor slegter as Justin Bieber teen AC/DC in ‘n rock and roll kompetisie. Hy’s seker maar orraait – hy kan darem bietjie swem en hy’s so kort die roeispaan sal hom dalk bo-hou.

Maar wag, wat kom daar aangeswem? Wragtig, dis my main man Scott! Maar hoekom vorder hy so treurig? Ek weet hy swem nou stroom-op, maar daar waar hy nou trek is die rivier breed en die stroom stil. (By the way, hoekom swem hy terug? Hoekom klim hy nie uit en loop wal-langs terug nie? Dit dink ek nou eers toe ek dit skryf. En dan mompel hy van my tekort aan common sense…) Maar ten minste kan ek sien hy het darem iets teruggebring, wat hy met die een hand bo sy kop probeer hou – dit moet die aller-belangrike roeispaan wees! “Ek het dit! Ek het dit!” hoor ek hom trots skree, asof hy sopas goud gewen het vir alles in die Olimpiese Spele. Mooi man! Maar wag, daai’s bietjie kort vir ‘n spaan…. Wat de …? My liewe blou donner – dis die bottel likeur wat die swaksinnige sot mee terugkom! “Waar’s die roeispaan?!” roep ek nog voordat hy voet aan wal kan sit. Word ek toe ‘n te-lang storie vertel van al sy ontberings en beproewinge met sy myle en myle se swem-marathon met die unexplored en verskriklik gevaarlike Kliprivier af. Op ‘n stadium kon ek sweer hy noem krokodille, head-hunters en ‘n haai of twee. Wat hy seker probeer sê is dat hy te stadig was om die roeispaan in te haal (wat net rustig afgedryf het in ‘n rivier wat plek-plek amper tot stilstand kom), toe die botteltjie sien ronddobber het, en dit toe maar as ‘n verskoning gebruik het om spaanloos terug te kom. En dis mos nie sy pa se spaan nie, en hy weet helfte van die brake fluid likeur is syne. Dankie, tjomma!

But these things happen. Al wat mens kan doen is weer kano-in, terugdryf huis toe, terwyl die laaste biere gedrink word en die brake fluid ‘n hupstootjie keel-af gegee word. Tuis gekom word die kano so onopsigtelik moontlik verby die huis gesmokkel (bitter moeilik met ‘n ses voet lank, helder rooi en wit ding) en diep onder die afdak weggesteek, in die vae hoop dat sy spaanloosheid nie ontdek sal word nie…

O.K. so ons voorbereidende vaart as proeflopie vir die vlot-dag was nie ontsettend auspicious nie. Maar ons motto is mos “Live and Don’t Learn” so ons vlot voort met ons plan om die vlot-reis groter, beter en droër te doen. (Nou kom ons uiteindelik by die verlore 2 liter Coke en brandewyn!) Die vlot was nie ons s’n nie. (Nie eers my arme pa s’n nie!) Dit het sommer vanself, na ‘n effense vloed in die Kliprivier, êrens by een van ons bure losgebreek en op ons stukkie wal tot rus gekom. (Vir geen oomblik het dit by my opgekom om by die bure te gaan vra of dit hulle s’n is nie – mens steek mos nie ‘n gegewe lig onder die perd se maatemmer weg nie. En nou-nou wil hulle dit terughê.) Die vlot was maar net twee leë 55 gelling staal dromme, met ‘n paar planke bo-oor om hulle bymekaar te hou en darem ‘n sitplek te gee. Omdat dit nie ons s’n was nie, besef ek dadelik dat die ding mos stroom-af gery kan word, tot waar die bogenoemde treinspoor met ‘n redelik hoë en indrukwekkende brug oor die Kliprivier gaan. Daar’s so ‘n weir gebou onder die brug, waar die water nogal lekker spoed optel oor die weir, en daarna kan die vlot mos sy eie pad gaan, die roeispaan join vir ‘n trippie see toe, en ons kan terugstap huis toe.

Maar eers moet vlot naam kry. S.O.S. was my voorstel, wat sal staan vir Shit Ons Sink, aangesien ek verwag het dat dit is wat gaan gebeur. Scott het geleun na Dronk maar Drywend, of dalk Vlotten Lekker! Op die einde het ons by S.O.S. gebly – makliker om te onthou, alhoewel moeiliker om uit te spreek wanneer gebrandewyn. Die keer was ons veel meer voorbereid en professioneel as met die kano. Ons het S.O.S. nagegaan, die planke bietjie vasser getrek, gekyk of die dromme darem nie te vinnig lek nie, en selfs drink- en eetgoed ingepak. (O.K. die eetgoed was ‘n pak Simba sout-en-asyn-tjips, maar tog…) Drinkgoed was die nou-al beroemde 2 liter Coke, waaruit ‘n paar slukke gevat is, en weer opgetop is tot heeltemal bo, toevallig weereens met van pa se brandewyn. Niemand het geweet van velkanker in 1984 nie, so daar’s nie geworry oor hoedens, sunblock of sambreel nie. Na al hierdie verskriklike voorbereiding word S.O.S. ter water gelaat (in die rivier ingestoot), die bemanning klim aanboord (ons spring op en wen ‘n paar splinters) en niks gebeur nie. Ons dryf net (net-net) sonder om te beweeg. Ek sal eerlik wees – dit was bietjie van ‘n anti-klimaks. Omdat ons nie ‘n roeispaan het nie(!!!) moet ons maar hand-maak en die vlot maar manually tot in die hoofstroom probeer kry. Daar tel ons verskriklik stadig spoed op totdat ons teen so 10 meter ‘n maand die rivier afvlieg. Maar ons is nie haastig nie – die Coke is vol. Die tjippies word eerste verorber, aspris om ons lekker dors te maak, want die Coke is poeding. (En sal ook haastig gesluk moet word, want dis WARM en warm Coke is nou nie juis Gordon Ramsay-lekker nie. So ons werk die tjippies af, en toe ons bekke rou getjomp is en ons wange soos poepholletjies intrek van al die sout en suur, trek Scott vir ons die langverwagte Coke nader. Aaaahhh!!! Dit gaan mos nou lekker wees – pure plaas! En dit sou seker, as Scott nie met sy rivier-nat hand die Coke uit sy hand laat gly het nie… Dhoemps! maak die bottel toe hy die water tref en soos die Titanic die dieptes in verdwyn. En net soos met die Titanic was daar skok, hartseer en verwyte. Trane was naby, ongeloof dat sulke slegte goed nou sulke goeie mense kan oorkom en vingers is gewys. Wel, net een eintlik. Ons het natuurlik dadelik begin induik en die botteltjie probeer opspoor, maar in poefbruin, dieperige water met ‘n stroom wat dit sekerlik op die bodem aanstamp ondertoe, was dit ‘n dapper maar doomed tot failure plan. Verslae, nat en vreeslik dors sit ons op S.O.S. (Wat toe staan vir Shit Ons Suffer.) Wat ‘n lekker drink-en-dryf moes gewees het, is nou net twee dorstige idiote wat verbrand op ‘n paar sinkerige dromme. Maar ag wat, mans kan mos nog altyd stront praat, so ons dryf, swem en gesels. (Het ons selfone gehad om mee te speel sou ons nog makliker die tyd kon verby kry, maar clot Scott sou dié ook seker in die water ingedonner het… En ons prehistoriese grotbewoners van die 80’s het mos nie sulke nuwerwetse bederfies gehad nie.)

Baie, baie, baie later, kom ons by die treinbrug met die weir daaronder aan. Dit lyk beter! Die weir is aspris hoër as die ou, natuurlike vlak van die rivier gebou, so die water dam op aan die bokant van die weir en vloei dan baie vinniger bo-oor. Die weir self het so ‘n paar meter se sementblad wat ondertoe slope, waar die water lekker spoed optel voor dit so drie voet oor die rand van die weir afval na die nuwe, laer vlak van die rivier. So dis ‘n mini-waterval, met die water wat daar nogal rof maal en spoel. Maar ons is mos dapper explorers, bored out of our tiny minds, lus vir kakmaak en bang vir niks. (Wel, bang vir my pa, sou hy agterkom sy brandewynvoorraad is besig om onverklaarbaar vinnig te verdwyn… ek besef nou eers hy’t seker gedink hy’s besig om alkoholis te word!)

So ons praat mekaar moed in en laat die stroom ons weir se kant toe vat. Vir die eerste keer vandag tel ons rêrig spoed op. Vinniger en vinniger. Ons is nie eintlik meer in beheer nie. Tussen die brug se pilare. Nou’s daar nie meer omdraai nie. Net hier voor is die afdraande van die afwaartse sementblad. Ek begin dink dit was nie ‘n slim plan nie… Op die rand. En oor! Ons skiet oor die stukkie skuins sement. Vlot en ons oor die bonzai waterval se rand. Val die stukkie tot onder. Die vlot se voorste drom druk diep die water in, skiet regop en ja, ons verloor vashou en foeter oorboord. Scott val vorentoe, weg van die weir af, veilig. Maar ek, met onberispelike bad luck, neuk agteroor, reg onder die waterval in.. en in ‘n hele nuwe pak probleme in. Wat ons nie weet nie maar ek dadelik agterkom, is dat die kunsmatige waterval-effek van die weir ‘n perfect storm veroorsaak van tonne water wat aanhoudend oorval, ‘n maal-aksie veroorsaak met water wat draai, kolk, spoel en aanhoudend terugvloei onder die waterval in. Basies ‘n wasmasjien op ‘n olierige overall setting. En die sterk terugstroom maak die maalkolk soos Scientology of die Freemasons – as jy eers daarin is, kom jy nie weer uit nie. Die volgende paar minute sal ek nooit, nie eers met dubbele Alzheimer’s, vergeet nie. Die water trek my ondertoe, weg van die lig en lug af. En nou het ek issues met suurstof en my lewensverwagting val vinniger as ESKOM se kragleweringsvermoë. My asem raak op. Ek kom vir ‘n vinnige draai boontoe. Sluk bietjie lug en baie water. Weer ondertoe. Baie gou weet ek nie meer waar’s op of af nie, waar’s water en waar’s lug nie, en begin nie meer omgee nie. In wetenskaplike taal is ek besig om te versuip. En ek kry nie eers die beloofde “entire life flashing before my eyes” nie – daar’s nie tyd nou vir fliekkyk nie – as ek aan iets kon dink sou dit seker net ‘n oordonderende hartseer gewees het dat ek nou-al staan en vrek en ek het nog nie eers ‘n decent vry gevang nie! Ek kan net nie bo-kom of uitkom nie – ek kan nie eers sien waar uit of op of bo is nie. Die water is te sterk en pluk-ruk-trek my moeiteloos rond, onderstebo, ondertoe. Ek probeer spartel, swem, skop, roep, gryp. Van die volgende paar oomblikke weet ek regtig niks. Seker maar moed opgegee… Toe ek weer oë kan oopmaak – maar nog totaal out of it, ek weet nie waar of wie ek is nie – is ek besig om stroom-af te dryf, al ‘n hele paar tree van my waterval af. Bloot toevallig het die maalkolk moeg geraak om met my te speel, en soos ‘n kat se haarbal uitgespoeg. Die rivier hier is baie breër, die stroom kalm en die water vlak. Opstaan en wal toe loop kon ek seker al lankal, maar my bene is jellie. No Name Brand jellie, met nog te veel water aangemaak ook. Ek kan skaars net dryf, probeer om die water in my keel en longe met lug te vervang en oor die skok probeer kom dat ek so vinnig amper my gat gesien het. Scott kom nader geplas deur die vlak water – verskriklik bekommerd. (Vir ‘n verandering is ek baie bly om hom te sien. Baie bly om enige iemand te sien.) Hy’t nie geweet presies hoe sleg dit met my gaan nie – hy het kant toe geswem en ‘n rukkie gevat om te besef ek bly nou bietjie lank onder die water. Eers toe hy die lang lappop amper leweloos sien afdryf kom hy agter hier’s ‘n fout. (Bietjie Forrest Gumperig van hom, maar nou ja, wat verwag jy van ‘n man wat ons enigste bottel Coke en brandewyn in die Kliprivier gooi.) Ek kom staaadig orent – nog groot van oog, wit van gesig, bewerig van been en vuil van onderbroek. Leunend op hom (gelukkig is hy mos lekker kort langs my – net reg vir leun) kom ons altwee strompelend darem weer aan wal – ironies genoeg en absoluut on-snaaks soos manne wat ‘n brandewyntjie of twee inhet. Daarvan gepraat, as daar nou OOIT ‘n tyd was vir ‘n ietsietjie in ‘n glas… – o ja, dankie Scott! Maar eerder ‘n verdrinkte Coke as ‘n versuipte Wessel. Ons kies elkeen ‘n warm-gebakte klip, gaan sit dankbaar en kyk met nuwe oë om ons na die misleidende rustigheid van die rivier, die koel wilgerbome wat waghou oor die water en die gladgespoelde klippe wat skuiling gee vir jong krappies. Die rivier het tot die vermetelheid om vrolik en onskuldig te kabbel oor die klippies hier voor ons. Kabbel, sê ek jou! Maar ons wil niks weet nie. Van nou af bly ons op harde grond – water is vir visse en karwas. Selfs bad is uit – ons is nou stortmense. Later, toe my bene weer met my brein kan praat, stap ons padlangs, grondlangs huistoe. Rivier se nat gat. Ons het klaar besluit – nooit weir nie!

Een antwoord op “Titanic 2 – Die Hartseerder Sequel”

  1. Wessel, ek moet sê, ek lees nooit nie, maar vir jou stories maak ek uitsondering!!! Uitstekend vertel, baie interessant en snaaks. Hehehe well done!!

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.