Kyk Noordhoek en Kamp Voort!

Hi, my naam is Homer. Ek’s ‘n wit, blou en silwer Mitsubishi motorhome in die fleur van my lewe. (En met fleur bedoel ek middeljarig, dalk selfs grootjarig – ek’s dertig jaar oud, het al oor die 150 000 kilometers gestap, geslenter en (ja!) gehardloop, en die jare begin wys. Ek piepie gereeld deur ‘n waterpyp-lek en ek staan maar moeilik op in die oggende (veral as dit koud is – baie kreune en steune voor ek aan die gang kom). Plooie begin ook al wys op my verfwerk, en die odd roes-sproet begin nou hier en daar groei op my effens-oorgewig lyf. My hart is maar dodgy – om sy battery-water op te top help ook net soveel. Dan’s my prostaat ook nog vergroot – die dokters het al ‘n nuwe exhaust ingesit, maar ek wag nog vir die welding om te sak… Salf word gereeld op my dashboard gesmeer om teen velkanker te probeer keer, en handvolle medisyne is nodig om verskeie ou-kar kwale in plek te hou. My bloed raak deesdae ook gou dun, en moet gereeld gecheck en opgevul word – my bloedgroep is 10W40 positief.

My nuwe mense het my Februarie aangeneem – hulle is Wessel en Retha. Wonderlike, intelligente, pragtige mense, maar van motorhomes en kamp weet hulle hardop-lag min. Erger nog – om in-die-oë-kyk eerlik te wees – die man weet net genoeg van voertuie af om homself in die moeilikheid te kry. Omdat hy DINK hy kan iets doen, try hy dit fix, breek dit gewoonlik net beter, gebruik liederlike taal, maak homself seer en begin bloei, hardloop uit woorde uit, slaan die probleem met die naaste swaar ding en drink ‘n voorgeskrewe wyntjie. Ek dink hy weet hy weet niks, maar is te trots om dit te erken en te flippen suinig om professionele hulp vir my te kry. (Vir sy kar, myself of hom.) So wanneer ek ‘n pyn kry, is dit nie ‘n Mitsubishi-geregistreerde dokter met papiere teen die muur wat my weer op die wiel kry nie, nee! Dis sommer net Wessel met sy aanmekaar-gewelde hamer, sy grootste tang en sy al-ewige sakkie cable ties en die donnerse duct tape. Ek’s al so silencer-vol vir cable ties en duct tape – as iets aan my losraak, raasmaak of lek-kry, weet ek ek gaan vasgetrek of toegetape word. Vir ‘n wonderlike verandering wil ek graag SY strot lekker nou-trek met ‘n cable tie en al SY gate toeplak met duct tape en kyk of hy dit like! En as hy nog een keer sy kop teen my dak of overhang by die deur stamp gaan ek hom terugstamp – hy dink dis mos net HY wat seerkry! Sak mos af op sy kniegies en vloek my binne in ‘n ander model in… Ek’s nou al ‘n maand hier en die clot stamp hom nog steeds! Terugger op die brug as ‘n 1978 Datsun bakkie, as jy my vra!

Retha is darem beter (baie mooier ook – weet nie hoeveel hy haar moes betaal om tot trou te kom nie…) Sy werk maar om sy manlike ego om dinge actually gedoen te kry. Maar ek dwaal af – wou julle eintlik vertel van my trippie Noordhoek toe in Maart na Chapman’s Peak Caravan Park. Ek het vir Retha en ook tog nou maar vir Wessel saam gevat – dis darem geselskap en iemand moet darem gereeld vir my koeldrank koop. En my koeldrank is ‘n duur storie – dis al oor die R15 vir een liter! Soos altyd het hulle my beste tjomma saamgebring – Pieks.

Pieks is die slimste hond (mens?) wat ek nog ooit gesien het. Sy’t vir Retha en Wessel al so mooi geleer dat sy amper nooit self êrens heen hoef te loop soos ‘n hond nie – sy word gewoonlik gedra waar sy wil wees. Beste kos ook, en as ons ry, word dié sommer voor haar mond gehou in haar bed, dat sy tog net nie hoef op te staan nie… (Bederf verby, maar julle het dit nie by my gehoor nie!) By die kampeerplekke beskerm sy my baie mooi – geen ander hond kon nog ooit nader as 5 meter aan my kom nie. (Ek weet dis presies 5 meter, want dis hoe lank haar leiband is…) Hierdie kampnaweek is juis net vir haar – word mos 9 jaar oud die naweek – petroljonk vir ‘n Homer, snot-stoud-oud vir ‘n mens, maar redelik bejaard vir ‘n Chihuahua!

Daar gaan ek al weer! Ai, as mens eers meer as 150 000 kilometers op jou gesig het, praat mens te lank en te skeef. Noordhoek! Retha en Wessel pak my vol, dra Pieks in, tuck haar in haar bedjie net hier agter my skouer, Wessel stamp sy kop, hulle klim in en daar gaat ons! Uit Gordon’s Baai, verby Strand en dadelik af see toe met die R310. (As mens of motorhome op vakansie gaan, moet jy moes so gou moontlik by die see uitkom.) Dis ‘n lieflike dag in Valsbaai, en ek hardloop sommer oop-ruit met die Strandfonteinpad al langs die see af Muizenberg toe. Oop-ketel! Sommer DEUR Muizenberg. Stop net as die robot al duidelik rooi is. Want briek is moeilik. Mos ‘n groot lyf – ek gaan stadig stadiger. Soos ‘n veel jonger en kleiner Pajerotjie! Skiet ek sommer daar op en uit met die Ou Kaapse Weg – ek wens ek kan gou omdraai om bietjie die uitsig te beskou – dit bly mos so ‘n skielik-mooi pad daai… berge, rotse, die wye blou baai daar doer onder oopgegooi, met die berge aan die oorkant – tot by Hangklip in Pringle Baai. Met die vars see-luggie wat instoot is dit mos die lewe!

Aangekom by Noordhoek is ek effe uitasem, meeste van my koeldrank is op, en ek’s reg om gelevel te word en ingetuck te word met my awningtjie vir ‘n siësta. Maar soos gewoonlik is dit ‘n proses – die man wat my eers dié kant toe vat, dan vloek, dan daaikant toe, amper teen die takke bo vas – Pasop! – voor ek uiteindelik redelik level tot rus kom. En dan eers kan sien hierdie is ‘n interessante, lekker plek – diere, sien. Honde – almal groter en vriendeliker as Pieks.

Eekhorings wat hondmak (as Pieks nie sal aanstoot neem nie) hier haastig langs my verbyskarrel, asof hulle mense het om te sien en dinge het om te doen. En alle vererige goed – hoenders, poue, eende en wat ek dink is makoue loop sommer so bedelaar-mak hier neffens verby. (En hoekom loop eende altyd in ‘n ry? Heeldag op en af, maar altyd agter mekaar. Raak dit nie eendtonig nie?)

 

 

 

 

 

Die gediertes en gevlerktes en baie bome maak die plek en jou se self sommer dadelik rustig. Selfs hy hou op stress oor kragkabels en awnings en gasstoof en stoele. Al drie my mense (twee onhariges en een harig) kry hul sit, haal lekker diep asem, vat ‘n sluk en begin name uitdink vir die gediertes wat kom dagsê. Om te dink – as hulle êrens in ‘n hotel ingeboek het, het ek nou by die huis gestaan en verder geroes, en hulle sou hierdie amper-plaaslewe hier gemis het… Agtermiddag dut ek ‘n bietjie, terwyl Pieks all honde (twee Jack Russells en ‘n stamboeklose swart iets) vyf meter weghou. Sy raak ook bietjie verstrengel in haar halsband en moet gereeld ontkoek word, maar leer is min. En die ís ‘n interessante kamp – hier’s ‘n paar kampeerders wat duidelik sommer al lank hier bly, al huis en tuis en mooi gemaak het, en op voornaamterme met al die plaaslike dierelewe is. En vriendelike mense ook – groet jou nog soos in die ou dae in ‘n klein dorpie. Kan selfs nog smile ook – verseker nie groot stad se mense nie!

Chapman’s Peak Caravan Park se mens-garages waar hulle gaan was en ou petrol en olie aftap is ouerig (soos ek), maar goed in stand gehou (soos ek!). Baie netjies, skoon en daar’s tot tydskrifte. (Wel Duitse tydskrifte, maar my mense kon darem die prentjies kyk.) Daar’s ook wasmasjiene vir Retha se ordentlike klere en Wessel se moes-dit-al-lankal-weggegooi-het maar hy insist dit het “nog baie dra oor”. (Ek wil nie die woord suinig moeg gebruik nie – kom ek sê eerder ontsettend spaarsamig.)

Maar dis tog lekker om so in ‘n spannetjie saam te kuier. En vriendelike bure te hê. Die vier van ons werk goed saam – ek ry hulle daar, sy versorg, Pieks beskerm en hy… wel, hy maak darem op vir sy ongeduld en meganiese onbeholpenheid met ‘n briljante talent vir in-die-pad-kom en slegte-en-onnodige-raad-gee. Ons almal verdien ‘n vuurtjie en ‘n geselsie skemer-deur tot donker. En ons maak so…

Die volgende dag vat ek ‘n breek – op my ouderdom kan motorhome ook nie elke dag ooploop nie – die lewer moet bietjie herstel en my filters moet eers hulle ding doen. Ek begin my dag met ‘n lekker lag – Wessel klim nog half-beslaap uit my, stamp sy kop teen my deur, en sien (on)gelukkig betyds dat ‘n ander hond ‘n bruin persentjie reg voor my deur gelos het. Wat hy nie sien nie, is dat dit ‘n natterige, loperige persentjie is, wat net-net sy tipiese opgedraaide roomysvorm behou. Die souserigheid van die item beteken dat, toe hy dit met ‘n te-kort stokkie probeer wegskiet kant toe, dit natuurlik so goed werk soos om Pronutro met ‘n breinaald te skep en hy net die persentjie wegspat. Oor die gras, ‘n eend wat ongelukkig net toe verby kom, en gelukkig (vir my) ook oor sy eie voet. Maar my wipers wip soos ek skelm lag. En daar’s mos net een ding snaakser as mens wat hondestront oor sy eie voet geklap het, en dis as daai mens dan rondhop op een been en probeer om met dieselfde strontstok sy voet skoon te krap… Foeitog!

Later, skoner en minder stink, stap hy en sy af Noordhoek se strand toe – lekker afdraand. Die strand is GROOT, oop, wyd. Pragtig, mooi en afgesonderd. (En gelukkig min toeriste wat alles met kameras en selfone wil “verewig”, en niks met hulle oë wil onthou nie!) Groot rotse wat rondgestrooi lê op die strand asof ‘n reus-kind met sy klippertjies gespeel het, en dit net daar vergeet het toe ma-reus hom roep om te kom  eet.

 

Wessel moet natuurlik op een klim – vergeet mos hy’s net een lekker val van ‘n heup-operasie af. En natuurlik voete natmaak. In daai koue water – mos Weskus se see. Met my rubbervoete sal ek daar kan in en inbly, maar mens se kind stap mos in, voete raak seer, begin brand en sommer rooi word van die koue. En dan probeer hy mos omdraai en vinnig uitloop want dit raak nou rêrig eina maar hy wil nie hê die ander mense moet sien hy was nou stupid nie so hy loop al vinniger en vinniger om uit te kom voor hy tone verloor. (Soos iemand met ‘n bruin nood wat besef die wit sitplek gaan dalk net twee treë te ver wees…)

Maar ek sien sommer aan hulle se rooi gesigte en bewerige bene toe hulle terugkom dat hulle lekker afdraand van net-nou hulle verraai het, en nou in ‘n steil opdraand verander het. En ek onthou hulle het ook al ‘n skottelvol kilo’s op, hulle tappets begin raas en die loopvlak op hulle tyres raak ook nou al gladderig… So ek verstaan die blaserigheid, sweterigheid en dringende begeerte om “bietjie te loop lê”. (Ek kon hoor aan hulle praat dat daar ernstige probleme was met die pad terug – kon nie ‘n plek kry wat ‘n koue biertjie verskaf nie, totdat hulle amper al heeltemal terug was, amper op sterwe was, en dit so te sê al te laat was. (En hulle praat van MY wat so swaar op my voggies is!? Hulle kry skaars 2 kilometer op ‘n liter!)

Laatmiddag kry hy darem weer ‘n vuur brand – die vlammetjies knetter saam, die rokie trek so skeef-dronk eenkant toe, en die vere-goeters kom staan nader om te bedel-skrop vir ‘n eetseltjie. Skelm word dit donkerder, koeler en stiller, en so onder die bome deur kan ons weer die eekhorings sien speel. Die gesprekke raak dieper, die lewe lekkerder en kamp net beter. Die ganse kom nagsê en ry-stap weg huis toe. Tyd om ligte af te sit, voorruit toe te maak en awning bietjie stywer vas te trek en rustig aan die slaa………

Die laaste oggend is hy weer te vroeg op en pla almal wakker. Ten spyte van sy hulp en raad kom alles tog gedoen, Pieks word vir ‘n laaste piepie en hondjaag gevat, ek kry ook ‘n vinnige check-up. (Asof hy sal weet as daar rêrig iets fout is!)

Ek gaan weer see-langs om huis toe. En dit bly so mooi. Die kalm see met sy onrustige bende see-voëls wat heeltyd op en af soek na iets om te aas. Rye hengelaars ingepak soos – ja, ek moet dit sê – sardyne, met elke groepie se karretjie hier langs hulle. En elke man se persoonlike blikkie of botteltjie net arm ver, met ‘n musiekie wat hier en daar opklink. Die perfekte einde vir ‘n Pieks-verjaarsdag-kamp!

4 Replies to “Kyk Noordhoek en Kamp Voort!”

  1. Ons het die naweek n tent gekry, (wat ons al 18maande terug gekoop en betaal het)
    En van skone opgewondenheid en kan-nie-wag-nie, en hier-is-darem-groot-genoeg-spasie
    Besluit ons om hom op te slaan (om te sien of alles daar en heel is) want dit is n nuwe tent (hy was splinter nuut toe die vorige eienaars hom present gekry het by die mense wat hom oorspronklik gekoop het!)
    En omdat ons 700-en-n-bietjie kilometers gery het om n Vyftigste verjaarsdag by te woon, moet die tentopslanery wag tot NADAT ons aangetrek het (tema is great gatsby) en darem net al die gaste gesien het!
    So na 2-ish glase wyn en opgedress met vere en high heels en perels en n rok en n hairdo me vere in, moet die tent NOU opgeslaan word! (Ander het ons nie slaapplek nie! Tensy ons by ouma en oupa op die opvou-bank-bed wil slaap in n kamer wat moontlik n sauna was/steeds is… maar dis heel van die punt af)
    Ons besluit om as splinter nuwe einaars van ons splinter nuwe tent (en voor 2 (en n bietjie) glase wyn dalk bottels word. “Gou” die 6/8 man tentjie op te slaan!
    Hy het nie meer n sak nie, net nylon toue wat alles bymekaar maak en ons het vinnig en effektief allea ontknoop en oop gevou. Ons het mos gese ons is exsperts!
    Nou moet ons besluit watter van die dun en dik pypies moet waar gaan….
    Eerste wat waai is die vere… letterlik, af van my nek af. Toe die hoe-hak skoene en fishnet kouse… toe die perels…
    Ek vermoed helfte van die make-up ook met die gesweet…
    Die manne wat almal grend 1920 aangetrek is het vergeet om hulle 1920 gentleman maniere in te pak vir die partytjie, so hulle maak of hulle nie damsels in distress sien nie….
    Die fyn papier dorintjies maak nie die tent seer nie, maar kaal voete… ander tipe stoffasie….
    Ek soek skoene, enigiets wat nie hakke het wat enkel diep soos tent penne verdwyn in die gras elke tree wat ek gee om die tent nie… en dis langpad, want dis n groot (6/8 man!!!) tent!
    Na twee refills op die wyn,( in squidgy botteltjies sodat ons nie mors terwyl ons werk nie) en 790 woorde wat verseker eers na 1920 ontdek is. (Dis veseker ook nog nie ‘ladylike’ om dit te gebruik in die tyd en eeu nie, maar ek is seker daar is exceptions!) Het ons die tent op! Eureka!
    As die wind nie waai nie (ons bid hard, want dis PE!) Sal ons kan slaap.
    Ons het geslaap in die tent… ons het al die spares gekry en ons het alles mooi opgevou en al die pad Gordons baai toe gebring!
    Ons is nou officially reg om kampeerders te word!
    Ek gaan net oplees oor windbeskerming vir tentjies op google, maar ewn van die dae kom kamp ons viseker saam met julle!!
    Kyk uit vir n blou en geel Cadac tent wat 6/8 mans kan vat, maar net 2 vrouens in het! Xx

    1. Ek wil nou nie sadisties klink nie, maar dis sooooo lekker om te hoor dat dit nie net ONS is wat dronk-sukkel met penne en pype en tente nie! (En jy’s reg om eers jou hoe-hakke uit te trek – ek doen dit ook…) Vir die windprobleempie kan ek ‘n “stormnet” voorstel – dit lyk toevallig juis soos ‘n stuk van jou fishnet kouse. Net groter en sterker. Dit kom buite bo-oor jou tent, word styfgetrek met sy eie stel toue en penne en hou (hopelik!) die hele tent mooi vas op die aarde.

Leave a Reply

Your email address will not be published.