Daar’s niks beter as bike ry – Jou-maha Se-zuki! (2)

Word ek mos UITEINDELIK agttien, en kan nou opgradeer na broer se Suzuki 550 toe. Ook al bietjie opgery, maar ai, daai eerste oggend toe ek petrol draai, was die verskil oog-tranend duidelik. Spoed! Sommer vinnig verby 100, 120… en toe tref die bangheid my – mos nog NOOIT so vinnig beweeg nie.  En as jy jou gat kan afval teen minder as 60, wat kan ek nie nou aan myself doen nie? Maar stupid vergeet mos gou, en binnekort kyk ek presies hoe vinnig ek kan ry. Tot een aand, toe ek laaaat terug huis toe kom van Le Chic (‘n disco in Vanderbijlpark, is ek jammer om te sê). Ek was op daai stukkie amper-highway tussen Vanderbijlpark en Vereeniging, toe ek seker maar aan die slaap geraak het – dit was wel laat, en ek het moontlik ‘n bier shandy gedrink. Want my volgende indruk was dat ek, op my gat, langs my bike, besig was om in die pad af te skuur… My vriende en familie sal jou haastig vertel dat ek soms stadig en dikwels dom kan wees, maar selfs ek het besef dat dié situasie nie normaal is nie. My volgende agterkom was dat ek besig was om gatvelle teen ‘n kommerwekkende tempo te verloor, en daar sulke frimmeltjies velle agter my op die pad lê. (Soos wanneer jy ‘n outydse uitveër gebruik om outydse potloodmerke uiit te vee, en daar sulke eks-uitveër gedeeltetjies op die papier agterbly.) En net daarna tref die pyn – suffel so dat ek net daar, nog so in die skuur, probeer opstaan om ‘n ander gedeelte van myself tussen my en die teer te kry. ‘n Paar velle verder stop ek, en soos gewoonlik na hierdie tipe ervarings is my eerste begeerte om gat skoon te maak (sorry) voor iemand aankom en sien hoe Forrest Gump ek was. So ek plak boude met hulle nuwe lagie bloed op die 550 (wat nog werk – crash bars RULE!) en bloei verder huis toe.

‘n Interessante naskrif (not for sensitive viewers) – vir die volgende week het my onderbroek elke keer aan my vasgesit as ek gaan sit het – ek kom toe agter rowe op jou gat kraak elke keer as jy gaan sit, nuwe bloedjies sypel deur, kleef aan jou onderbroek vas en veroorsaak ‘n onwillekeurige “Shit!” as jy dan weer opstaan. (Wat moeilikheid maak as jy jouself op daardie stadium in die Biologie of Aardrykskunde-klas bevind.)

Nadat ek dit uiteindelik reggekry het om ou Suzi so stukkend te val dat nie geld of gebed haar weer gaan regkry nie, stel my pa my voor ‘n maklike keuse – ‘n praktiese, veilige en betroubare karretjie of weer ‘n gevaarlike, nêrens-plek-om-‘n-girl-te-vry-nie bike. Ons het ‘n paar dae later die bike gaan haal… Dit was my groot liefde, ‘n Honda CB750K. Pikswart, en haar naam was Zzyzzx. (Dis sy wat ek net nie om die Technicon se draai kon kry nie.) En waar was YouTube een donker aand in 1986 in Risiville, Vereeniging? Ek sal goeie geld gee vir ‘n video van ek en Zzyzzx daai aand. Daar was ‘n dans daar by die saaltjie reg langs die Kliprivier, waar ek met ‘n geleende suit met ‘n baie nice meisie was. Om hofsake te vermy sal ons haar Sarie noem. (Sy moes haar broer se suit vir my leen – my idee van “formeel” was ‘n skoon onderbroek en ‘n denim wat nog nie stukkend geval was nie.) O ja, en die suit was so ‘n besonderse afskuwelike  ligbruin met donderbruin strepies op. (Dit het gelyk soos diaree wat teen ‘n muur afgeloop het.) Ongelukkig het van my vriende my forseer om ‘n splash pool vol bier te drink, en toe ek (veel later en verskriklik geselliger) afskeid neem van my suit-lenende date, het ek met ‘n ongewone en heeltemal misplaasde selfvertoue op Zzyzzx geklim. Mooi uit die danssaal se parkering gery, die pad gevat, die petrol oopgedraai en 200 meter verder, daar waar die pad die eerste keer draai, reguit aangehou… Maar dit moes darem sierlik gewees het! Ek was aan die verkeerde kant van 120 toe my voorwiel die randsteen tref. Dit skiet die bike se voorkant op, en, net toe ek lekker begin sterretjies kyk, tref die agterwiel dieselfde randsteen. Dit veroorsaak dat ek en Zzyzzx, soos die oumense sal sê, gat oor kop trek. Dis net bene, fiets, helmet, geleende suit en tyres. Net soos daai groot ongelukke op die Isle of Man TT, behalwe dat ek (weereens) nie leathers aanhet nie, net die verdomde bruin suit.

Maar ek trek vêr hoor! Maklik my persoonlike beste. Toe alles uiteindelik ophou beweeg, lê ek plat op my rug met arms en bene in snaakse formasies, soos ‘n marionet wie se toue onverwags afgesny is. Ek lê so bietjie stil en wag vir die pyn wat gewoonlik hierdie tyd begin. Maar daar’s niks! Ek weet nie of ek toe al so professioneel kon val nie, maar ek het niks en niemand seergemaak nie. (Kon dalk ook die 16 biere se verdowende effek gewees het.) Ek staan op, en word dadelik bekommmerd oor Zzyzzx. En sy lyk naar. Agterwiel so pap soos ‘n ou man se… agterwiel. Voorlig alweer vodde. En iets nuuts – stukke gras en klonte grond wat uit my speedo en rev counter steek. Arme Zzyzzx moes ‘n paar wa-wiele gedoen het. Ekself is ook nogal grasserig, en, danksy die lappie grond wat ons losgeval het, is die vloekselse suit nou NOG bruiner! Dis nou mooi. Nou sal ek seker die ding moet laat dry-clean, en dit gaan lelike gate in my pool- en biergeld maak. En shit! Zzyzzx! Ek weet mos nou-al dat die voorlig en instrument panel loopmaag duur is – ek moes dit na die Technicon-insident ook vervang. Maar vir eers moet ek by die huis kom. Te vêr vir stap, en te bang om ma of pa te bel vir ‘n lift. (En dis nog jare voor ek ‘n selfoon gaan hê om hulle mee te bel!) So ek klim maar op Zzyzzx, wie amazingly genoeg amper dadelik start, en ry papwiel huistoe. (Dis doenlik, jy moet net staaadig – die oomblik as jy bietjie oemf gee, wobble-gly die agterwiel so skeef-skeef kant toe, asof Zzyzzx se eie gat haar wil verbygaan. By huis gekom, bike weggesteek vir ouer-oë, suit uitgetrek, grond en gras uit ore, onder naels en tussen tande uitgekrap en dankbaar dat net Zzyzzx ‘n eina gekry het.

Of wag, daar was nog skade. Vat toe die strontsuit dry cleaners toe, hulle kry dit toe onberispelik skoon, sodat daai lieflike poefbruin mooi deurkom, en ek gee dit trots terug aan Sarie. Sy weet natuurlik niks van my Flying Wallendas impression nie, so ek was effe verbaas toe sy die volgende dag vir my vra wat daai aand gebeur het. Toe ek groot-oog die onskuld-kaart probeer speel, loop wys sy my die suit. Sou ek toe eers agterkom dat die suit, alhoewel pragtig skoon, ‘n lekker gat-skeur het op sy linker skouer. Sarie nie impressed nie, Sarie se broer nie impressed nie. En toe maak dit nie meer saak dat ‘n bike nie ‘n vryplek het nie – my kanse vir ‘n vry het nou slegter gelyk as daai blerrie suit…

2 Antwoorde op “Daar’s niks beter as bike ry – Jou-maha Se-zuki! (2)”

  1. Lyk my ek hou meer van Homer ry as Suzuki of Honda bikes wat lyk my die geneigdheid het om die pad byster te raak… of jou beskrywing van eina en bloed en rowe is te goed! Hou aan skryf – ek geniet elke woord.

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.