Gans te lekker in Gansbaai!

Sooo, na ons ongelooflike suksesvolle eerste voel-hoe-dit-voel trippie met Homer (ons antieke motorhome met oorgenoeg plek binne vir twee of selfs drie volgroeide Chihuahuas) besluit ons om darem net die basic kamptoerusting aan te skaf. (Twee kampstoele en ‘n boks rooiwyn is nie baie street credderig nie…)

Dus beteken dit ‘n goed-deurdagte lysie, ‘n paar sakke vol geduld (pappa hou nie van shop nie!) en natuurlik ‘n staaf of twee goud en antieke muntstukke. (Kamptoerusting is stink-poepe-los duur.)

Ons eerste, belangrikste item om af te tick, is ‘n tafel. (Wynglase moer onstellend maklik om as jy dit op ongelyke kampgrond neersit.) Daar is ‘n paar om van te kies – ‘n cheap Benoni-kerkbasaar een, die Pretoria-Noord kyk-hoe-kamp-ons tipe, en dan die duurste, kom-ons-bel-Ooba-en hoor-van-‘n-tweede-huisverband opsie. Na ‘n gewik en weeg (dit beteken Vroulief het gewik om die duurste een te koop en ek het my beursie fronsend geweeg, en toe oorweeg om kar toe te hardloop – tafelloos) sit ek toe my voet neer as baas in die huis en dring aan op die medium-onbekostigbare tafel. Nadat ons die duurste een ingelaai het, stryk ons aan (stryk? hoekom stryk?) na die grondseil-rakke. Gou agtergekom ‘n grondseiltjie word blykbaar van geweefde meermin-hare gemaak, en daarna dat Porta-Potty pods of tablets (wat “all solid and liquid waste effortlessly dissolve” – eeeeuugghh!!! – en dan alles in lekkerruikende groen of blou parfuum verander) heel waarskynlik van Venus ingevoer word. Nadat Vroulief my getroos het, en ek ‘n nier verkoop het, stap (strompel) ons kampstofies toe.

Grote Griet! Klap my gat en noem my Wolraad Woltemade! Kom die goed met hulle eie kernkrag-sentrales? Kom dit met Gordon Ramsay of Nigella om vir jou ontbyt in die bed te bring? Weereens hou ek voet by stuk, en ons stap darem till toe met net die duurste een. (Lekker as jou woord wet is, nê?)

Blink-nuwe goodies gepak in Homer (blink van die trane…) is sy waarde sommer verdubbel. Ons eerste trippie sal dan Gansbaai Caravan Park  wees – nie te ver van ons huis-huis in Gordon’s Baai nie – so 114 km, net ingeval die addisionele stress van die ekstra gewig vir Homer ‘n ligte beroerte of inkontinensie gee. Ons vat pad met ‘n lied in die hart (enige iets van Bruce Springsteen) en die hare in ‘n vlegsel – die Van Tonders gaan see toe! Oor die berg, af Hermanus toe, amper deur die dorp en dan net eers stop by daai ruwe rotse waar die golwe so indrukwekkend breek Sievers Point – as julle nog nie daar was nie, los alles en ry NOU!

Oppad Gansbaai toe – die eerste keer!

Terwyl ons golwe kyk, kan ons seker darem net eers ‘n koue biertjie sluk vir die stress wat ons sopas beleef het toe ons Homer deur die dorp gesukkel het. En, soos die lewe maar maak, net wanneer jy lekker ontspan en dink vandag is die een dag wat jy nie koes-koes hoef te sit nie, besef Vroulief haar toilet sakkie (ek sê sakkie – ek bedoel natuurlik ‘n medium-sized tas, groot genoeg om ‘n skaap of twee uit die Karoo te smokkel) is nie heeltemal in Homer nie. Soos in nog by die huis… Behalwe vir die normale, onnodige mooier-maakgoed, het sy ook al haar noodsaaklike pilletjies, tablette en megaftertjies daarin. (Vroulief is mos nie meer vandag, gister of laasweek se kind nie, en die lyf begin mos maar oppak, aanpaksels kry en roeserig raak na ‘n certain age.) Gelukkig het ek klaar die meeste van my bier in toe ek die nuus kry, wat beteken dat ek soos Superman net smile, haar gerusstel dat dit glad nie ‘n probleem is nie, Homer omdraai en 72 km terug huistoe ry. Medisyne-koffer oplaai en weer 72 km terug Hermanus toe, en natuurlik nog verder baai-om Gansbaai toe.

Gansbaai Karavaankamp is die een wat jy nog voor Gansbaai kry, net langs De Kelders, daar by die hawetjie. Baie oop, eintlik net gras, die nodige pie- en poo-plek, water en kragpunte (wat die blou kragproppe gebruik, wat gelukkig ook op ons lysie was). Soos gewoonlik parkeer ons dom (O.K. ek) en moet ons ‘n paar keer verskuif om Homer redelik level en wind-op te kry. (Die volgende dag kry ons ‘n selfs-beter staanplek en skuif Homer en ALLES oor, en gaan weer deur die dom-parkeer roetine, maar nou ja – gelukkig maak ek op vir my stupidgeit met ‘n onvermoë om uit my foute te leer. My bynaam kon net sowel “Altyd in die verkeerde plek, op die verkeerde tyd, met die verkeerde size spanner en ‘n plat i.p.v. ‘n ster skroewedraaier Beukes gewees het.)

En onthou asb dat ek nog steeds, net soos op ons eerste trip, elke keer as ek uit Homer klim, my kop teen die body bo die deur stamp. Soms hard, soms harder, maar nog steeds elke keer. So die aanhoudende breinskades help nie regtig om goeie, logiese besluite te neem nie…

Maar ons kry al ons nuwe goedjies af en uit – moet obviously vir al die ander campers wys ons het darem nou al iets! Dan word die berugte awning opgeslaan – die keer sonder dat Vroulief weer kosbare IK-punte verloor met ‘n awning-hou oor die kop, en dan word Pieks uitgetel om haar inspeksie te doen.

Pieks (of Pixel, Piekselietes of Pixmeister) is ons laaste Chihuahua. Laaste, want honde het mos die hartseer gewoonte om nie so lank as mense te leef nie. Ons moes al baie totsiens sê aan ons ander harige kinders, wat een na die ander die langpad gevat het, en nou is Pieks ons oorblywende een. En sy MOET natuurlik saam, want Precious sal nie ‘n kennel verdra  nie… So ons kan net na kampeerplekke gaan wat honde toelaat, wat ons keuses verskriklik beperk, en wat ook gewoonlik beteken dat ons mooi moet oplet as ons rondstap, as ons nie met honde-stront tussen die tone wil terugkom nie. Nie alle campers maak agter hulle honde skoon nie! En daarby saam besef Pieks ongelukkig nie dat sy ‘n hond is nie – sy weet sy’s ‘n mens, en dink dat honde nare, vuil, ongepoetste goed is wat verwilder, gejaag en geblaf voor moet word. Wat sy dadelik doen toe ‘n goed-gemanierde St Bernard-tipe-van-hond net vriendelik wil kom dagsê. Sy vlie op hom af, en was dit nie vir die halsband om haar nek nie, het sy hom sekerlik lelik aan die enkels gebyt. Arme Bernard skrik hom in ‘n vegetariër in en staan vinnig terug – nie gewoond aan tiere wat in so ‘n klein size kom nie. Soos wat elke hond deur die dag verby probeer kom, gaan ons deur dieselfde prosedure. ‘n Vriendelike hond kom net te naby aan HAAR plek, sy trek soos ‘n bonzai vegvliegtuig laag oor die grond…. en dan raak haar leiband op. Partykeer kry sy soveel spoed bymekaar dat sy gat-oor-kop slaan as sy die einde van haar leiband bereik. Maar leer wil sy nie – aard na pa, sien. En een keer kry sy dit reg om haar hele 2.7 kg so vinnig aan te dryf dat haar fancy pienk halsbandjie die gees gee, heeltemal breek en TOE’S sy los! En ons weet sy dink dis nou uiteindelik die dag wat sy halsbandloos en onverhinderd met een van hierdie ongeletterde, onfatsoenlike basters kan afreken. Ek en Vroulief spring-val uit ons te-diep kampstoele om te keer, wynstortende en gillend, want nou’s daar niks meer wat staan tussen Pieks en ‘n heelwat groter hond (ek dink dit was weer Bernard) wat nou al gatvol is om heeldag beskree te word deur ‘n hond met die vorm en grootte van ‘n opgestopte slipper. Ons kry haar ‘n tandlengte van Bernard af aan ‘n agterpoot beet en dra haar nog-steeds-gillende-op-Bernard weer Homer toe. Halsbandjie nou amptelik moer toe, so toolbox word oopgegooi en plan gemaak.

Pieks, die Boksburg hond

‘n Ou skoenveter word verhalsband en vir die res van die naweek lyk Pieks soos ‘n Boksburg hond – rof, sterk, mean en met ‘n was-al-in-die-tronk-gewees “You’re looking at me!?” houding. En haar windgatgeit word net ‘n bietjie winder en gatter – sy’t mos nou ‘n swart, uitgerafelde veter i.p.v. ‘n pienk halsbandjie aan, sien. So ons berispe haar maar elke keer, stof haar af, dop die oortjies weer reg-om en sit haar weer op die skoot neer. Tot volgende keer.

 

Maar die uitsig is mooi! En jy sit net daar. Met die see, see-voëls, sonsondergange en braaiertjie alles hier vlak voor jou soos ‘n flatscreen met UHD. Net beter – as jy ‘n groterige pie het kan jy dit tot IN die see laat watervalletjie maak. (Dis nou mans – die dames gaan dalk bietjie sukkel, tensy hulle soos daai girl in The Full Monty kan maak…) Maar waar see is, is baie keer wind… Wat toe nou opkom en awningtjie begin rondpluk. Maar ek laat nie vrees die kat agter die sloot begrawe nie – ek pluk my kraakvars nuwe tentpenne uit, trek die prys-stickertjies af en span ‘n paar toutjies van die awning se pote af grond toe. En ek kry dit amper die eerste keer reg en trek dit vas. (Het natuurlik nie ‘n rubberhamer gebring vir penne inkap nie, net ‘n klein, gebreekte en toe weer aanmekaar gewelde hamertjie, wat beteken dat die aandluggie gevul word met tok, doef, doef, tok, doef, doef, “donner!” soos ek net elke derde keer die pen tref, en die ander kere die grond doodslaan. Toe, net omdat ek dit het en wil hê dat die ander campers moet sien ek het dit, haal ek my stormstroppe ook sommer uit, wikkel dit om, onder en oor die awning amper die eerste keer reg vas.  En slaan ook dié vas met ‘n vinnig-krimpende geduld en ‘n vinniger-groeiende woordeskat. Kyk pappa, orkaan se hol – die awningtjie gaan nêrens heen nie! (Aan die ander kant word Homer met sy unieke, perfekte boks-shaped vorm so rondgepluk deur die wind dat hy, ons, Pieks en my precious awning dalk almal saam in die see gaan waai, maar ten minste sal die awning nog vas wees aan Homer as ons die golwe tref. Maar ons gaan slaap met vrede in ons harte en ekstra tentpenne en die hamer in ons hande. Want wind…

Die volgende dag is warm, windloos en gemaak vir roomys. Ons gaan stap deur die magtige Gansbaai, terwyl Pieks vir Homer oppas en die vermin weghou. Daai aand – ons laaste – is poskaart-mooi, die wind bly weg, my vuur kom relatief maklik aan die brand en die rooiwynboks is darem nog nie heeltemal leeg nie. (Jy moet dit al ‘n bietjie tilt om die glas vol te kry, maar jy’s darem nog nie by die boks-oopbreek-en-‘n-punt-afsny stadium nie.) Selfs die vleisie is wonderbaarlik naby aan medium rare. Dis mos nou kamp! En net toe ons hoendervleis van die lekker is, raak dit beter: Ons hoor – saggies – ‘n man ‘n kitaar begin tokkel, ‘n tweede kitaar inval en wragtig, ja, selfs ‘n konsertina wat injoin. ‘n Paar karavane weg speel daar ‘n paar manne wat kan speel – daar, in die skemer, langs die see en voor hulle vuurtjie, ‘n reeks lankvergete en tog dadelik onthoude Afrikaanse liedjies. Boere-liedjies, hartseer-liedjies, saamsing-liedjies… Soos motte stap die res van die kampmense almal stadig oor na hulle vuur toe, nader na die musiek toe. Saggies en ongemerk, om nie die musiek bang te maak en te verjaag nie… Staan ons daar in ‘n halwe sirkel om die musiekmakers en hul vuurtjie en onthou liedjies, mense en tye saam wat nooit vergeet mag word nie.

Mooi man, mooi…

4 Replies to “Gans te lekker in Gansbaai!”

    1. Dankie Kobus! Ek’s bly al ons gesukkel en blou kolle was darem die moeiete werd… Ons sal julle volgende jaar sien in die verby-gaan.

Leave a Reply to Wessel Cancel reply

Your email address will not be published.