Daar’s niks beter as bike ry – Jou-maha Se-zuki! (1)

Ek kry so ‘n empatetiese smile wanneer ek hoor dat motorfietsryers bekend staan by hospitale se ongevalle-afdelings as Orgaanskenkers. Empateties, soos ek sê, terwyl ek ingedagte oor my linkerknie, albei boude, my neus, elmboë en linkergewrig vryf. Dis net sommige van die plekke op my lyf wat deur die jare gestamp, gebloei, geskuur en verdraai is, alles net oor my stupid liefde vir bike ry. (Daar was ook ‘n vinnige bewusteloosheidjie en waarskylik breinskade gewees toe ek my kop harder as gewoonlik gestamp het, maar daarvan kan ek gelukkig net die agterna se opstaan-vannie-teer-af-en-soos-‘n-dronk-eend-terugsteier-bike-toe onthou.) Gelukkig nooit letterlik organe geskenk nie. (Nie dat my brein of lewer ooit skenkkwaliteit was nie…) Alhoewel ‘n paar vierkante voet van my vel al teësinnig oor ‘n wye gedeelte van die Vaaldriehoek se paaie agtergebly het. (Mos in Vereeniging/Meyerton groot geword en bike gery – don’t judge, dis darem nie Brakpan nie.)

My beste (beste?) ongeluk was eintlik twee. Ek het dit reggekry (met heelwat Irish coffees se hulp) om binne ‘n paar weke, op DIESELFDE draai, by die Vaaldriehoekse Technikon twee keer neer te donner. Blykbaar was die fisika teen my – mens kan blykbaar nie teen 90 km/uur om ‘n nou, 90 grade draai in ‘n parkeer-area gaan nie. (Veral nie as jy, a.g.v. ‘n snerpende finansiële situasie die cheapste “Made in Valjougataf-Kong” tyres moet opsit wat die vasklou-vermoë van Teflon kombineer met die duursaamheid van 1-ply No Name Brand toiletpapier. As jy briek, gly jy en as jy meer as 2 000 kilometer op ‘n tyre kry, breek jy die sjampanje oop.) En natuurlik het ek nie lekker beskermende “leathers” gehad nie – nee, meestal net ‘n uitgewaste denim met die stukkende knieë (dit was die 80s, mense, en ek het geld gespaar deur sommer self die knieë stukkend te val) en die nodige luidrigtige T-shirt. (Weereens, dit was die 80s.) Op spesiale dae het ek selfs handskoene gehad – real imitation leather, nogal. So warm soos Glad Wrap en so beskermend soos ‘n lagie sweet. Met my tweede val om wat daarna bekend geword het as Wessel-se-draai, was my een vriend James natuurlik agter my in sy Opeltjie (O.K. ons het ge-dice, maar ek was darem voor toe my pad opraak) en het die hele tragiese gemors gesien. Ek hoor hom nou-nog lag bo-oor Meatloaf se Bat out of Hell wat op sy Pioneer tape deck speel. As iemand daai spesifieke James Botha ken, donner hom asb vir my. Hy’t darem die effense ordentlikheid gehad om uit te klim en my te help om die stukkies van my spieëltjies, indicators en selfbeeld op te tel.

Ek dink dit was die Meatloaf-val wat my linkerknie se ligament geskeur het, wat toe deur ‘n sekere “dokter” van Vereeniging, wat naamloos sal bly en hopelik nou al dood is, weer aangeheg is. Effense probleempie van die 80s is dat dit voor micro- en keyhole surgery was. So die dokter (ek dink hy was eers ‘n veearts wat gespesialiseer het in die groter plaasdiere) het my met ‘n lekker obvious scar op my knie gelos wat my laat lyk soos ‘n ekstra in The Walking Dead. Ek vermoed die operasie is gedoen met ‘n grassnyerlem en ‘n biltongkerwer. En ek gebruik die woord operasie baie los – Jeffrey Dahmer sou ‘n netjieser job gedoen het.

My ry-bike-en-skenk-bloed begeerte het op 16 begin, toe ek my pragtige, skitterblink, uit-die-boks, bloedrooi  Honda 50 (fifty, nie vyftig nie) by Bauman’s in Vereeniging gaan haal het. Ek het gedink rooi is beste, om dit vinniger te laat lyk, maar gou besef dis ook handig om die bloedkolle weg te steek. Wel, as ek sê ek het dit gaan haal – ek kon toe nog net fiets ry, so my effens-ouer broer, met sy kennis, ervaring en lisensie, moes my bike al die pad huis toe ry. (Ek was natuurlik verskriklik bekommerd hy verongeluk – die Hondatjie was sooo mooi…)

By huis gekom moes ek eers leer bike ry. Lekker maklik. Al wat jy doen is STOOT die ding met die twee-spoor plotpadjie op na die groot grondpad toe, kick-start dit, trek die clutch in, gee petrol, en, omdat jy stupid is en niks weet nie, los jy die clutch te vinnig en die vabond ruk-vrek-dood. Dan herhaal jy die proses 78 keer, totdat jy per ongeluk een keer die clutch stadiger los en actually vorentoe beweeg! Dan leer jy hoe die ratte werk – een af en ‘n paar op – dit leer jy ook op die moeilikste manier, en dan’s jy ge-hook for life en baie jare van wind innie helmet, goggos innie tanne en reëndruppels wat voel soos haelkorrels en haelkorrels wat voel soos windbukspellets is jou voorland… Na daai eerste dag se naam-gatmaak in die groot grondpad, het/moes ek vir 16 jare amper daagliks bike ry. Sestien bloederige, stukkend-gevalde klere, flenters-geskuurde indicators en spieëltjies en, in een buitengewoon-onosele instansie – rou-geskuurde boude. Moes, want toe my pa my op 20 die keuse gee tussen ‘n veilige, betroubare karretjie om mee technikon toe te ry, of ‘n lewensgevaarlike, gaan-definitief-my-gat-afval Honda 750, het ek soos gewoonlik alle common sense oorboord gegooi en die bike gekies.

Maar terug na my 50 – hy’t so pragtig gelyk. Ek het hom elke week gewas, en actually sy instruction manual deurgelees en dit beter as die Bybel nagekom. Moes hom blykbaar vir die eerste 1 000 kilometer onder 60 km/uur hou, anders sal ek blykbaar sy toekomstige “performance” benadeel. Soos ‘n goedgelowige piramiede-skema ondersteuner glo ek die beloftes en dreigemente en ry vir die volgende maand teen 59 km/uur. Kruiwa-stoters en roomyskarretjies kom verby my – slakke met kruiwaens en papwiel-roomyskarretjies kom verby my. Maar ek byt vas – my geduld sal sekerlik beloon word met die vinnigste 50 in Meyerton! Na 1 001 kilometer kom die groot dag – vandag kan ek my Saturn 5 met space shuttle boosters OOPDRAAI! Mars, eks-planeet Pluto ster Sirius, hier kom ek! Ek’s sommer hoendervleis van afwagting… Ek kies ‘n lekker reguit pad (wil mos nie teen ‘n onhanteerbare snelheid om ‘n draai probeer gaan nie) en gee gas… Die naald skiet op na 60, 62, 65 en toe 68, waar dit stop. Agt-en-donners-sestig! Jy kan nie ernstig wees nie! Maar dit was dit. Blykbaar het die feite dat ek toe al oor die 6 voet en 80 kg was, en die windweerstand van ‘n inry-teaterskerm gehad het, my topspoed so bietjie in die tanne geslaan. Ongelukkig het die molasse-masjien se Prestik-spoed my nie gekeer om etlike kere myself stowwerig, bloederig en blou te val, skuur en stamp nie. (Gelukkig nooit vinniger as 68 nie!)

Die stowwerige storie was bitter snaaks – vir my vriend wat dit veilig van vêr af gesien het. Ek was oppad skool toe, met ‘n lied in my hart en my tassie op my rug, toe ek by die skoolhek wou indraai. (Shout-out vir HS Dr. Malan! Ek’s kommerwekkend trots daarop dat ek in 1984 die naaste van al die matrieks gekom het om geskors te word. Maar dis anner dag se storie…) I.e.g. – die skoolhek: Daar was ‘n groterige lappie grond, waar meer bevoorregte kinders se ouers hulle kom aflaai het. Daar was juis so ‘n aflaaiende karretjie in my pad (‘n Golfie?) maar aangesien ek toe reeds darem een van die beste 50 bestuurders in Meyerton was (daar was seker elf) het ek sonder kommer of spoedvermindering net links van die kar verbygegaan. (Daar was mooi meisies in die omtrek, so af-show het ‘n rol gespeel.) Verby gegaan, totdat die vertraagde kind haar deur oopmaak om uit te klim – reg voor my. Verder links kon ek  nie – daar was ‘n watersloterigheid daar, so ek moes kyk of ek dalk tussen haar deur en die sloot kon pas. Alles het mooi gepas, behalwe my regterkantste handlebar, wat net-net die rand van die deur getref het, en ook net hard genoeg om my voorwiel te draai sodat ek daar, voor die vloeksel van ‘n kind, haar ma, en ongeveer 274 ander kinders en mooi meisies wat ook toe moes opdaag vir skool, my longe platval in ‘n stofwolk. Natuurlik het my rugsak-boeksak ook sy deel gedoen om my NOG ‘n bietjie harder in die grond in te druk. Toe ek uiteindelik ophou skuur oor die grond, myself optel, grond spoeg, afstof en maak of dit presies was wat ek wou doen half agt op ‘n Vrydag, sien ek ‘n vars probleem. Twee swart size 8 Bata seunsskoolskoene wat bokant die bossies aan die binnekant van die skool se draad uitsteek. Die skoene was vas aan my sogenaamde beste vriend, wat besig was om te ROFLAO dekades voor iemand nog ge-ROFLAO het. Die klein kak kekkel soos ‘n hoenderhen op “medisinale kruie”, en was baie lief daarvoor om dié storie te vertel aan enige meisie wat net gedink het daaraan om in my belang te stel. Maar ek het hom teruggekry – ek het vir weke geweier om hom te lift – wat hom vreemd genoeg nie baie gepla het nie…

Maar dis nou genoeg hartseer stories vir een dag – nog trane-trekkende tref-en-trap stories op ‘n ander dag.

2 Antwoorde op “Daar’s niks beter as bike ry – Jou-maha Se-zuki! (1)”

    1. Dankie. (Ongelukkig kan ek nie alles skryf wat ek gesê het toe ek van die bike afgeval het nie – my taal was maar bietjie blou en daar’s dalk kinders wat dit ook lees!)

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.