Kampeer? Kampseer!

So besluit ek en my verdraagsame vrou om op ons oudag te begin kamp. (Oudag beteken ek is so 50 lang jare plus die nuwe verhoogde BTW en Vroulief se ouderdom is ek nie dapper genoeg om bekend te maak nie.)
Weens ‘n afwesigheid van enige kamp-ondervinding, besluit ons om nie te gaan KAMP nie. Met KAMP bedoel ek nou karavaan-en-tent kamp. In my gedagtes beteken dit karavane in-reverse tussen twee te-naby bome terwyl jou vrou “help” deur teenstrydige bevele uit te roep, haar arms terselfdertyd in ses verskillende rigtings te swaai en elke drie sekondes STOP! te skree. Om half-drie in die nag jouself simpel te val oor tenttoue as jy moet landloop om die gevreesde ablusieblok betyds te probeer vind…
Ons koop toe eerder Homer – ‘n “mobile home”. Homer is ‘n 30 jarige omgeboude Mitshibushi bakkie, met ‘n 2 liter petrol enjin wat opmaak vir sy onstellende min krag met traantrekkende hoë petrolverbruik. Met die “home” agterop en die vinniger-as-lig blou en silwer strepe op die kante.


Hoekom die brawe besluit om NOU weg te breek van gerieflike B&B’s, ruim self-catering eenhede en luukse hotelle? Kom ons noem dit maar ‘n lus vir die oop, onbekende pad, ‘n liefde vir alles daar buite en ‘n gierige begeerte om GELD TE SPAAR op verblyfkostes! Ja, plein, doodgewone, alledaagse ou suinigheid is seker maar die eerlikste antwoord. Maar die aantrekkingskrag van net-ry-en-kyk-waar-ons-uitkom, met diertjies, voëls (en muskiete) wat sommer langs, op en onder jou huis rondskarrel of vlieg het darem ook ‘n rol gespeel.
Vir ons eerste oorlandse ekspedisie kies ons ‘n maklike, relatief naby bestemming – die GPS tannie sê dis net 177km van ons huis in Gordonsbaai na Montagu Guano Cave Resort. Wat kan enigsins verkeerd loop…? Die inpak is maklik – ons het niks. Geen grondseil, tent, tafel of gasstofie nie – nie eers ‘n Tom- of Jerrykan nie. Maar ons het darem twee kampstoele, ‘n flits en double-ply toiletpapier!
So val ons met ‘n lied in die hart en ‘n tenk vol petrol in die pad. Absoluut geen probleme, tot ons net vinnig deur Bonnievale moes ry. Die GPS antie oortuig ons om te “turn right in 600 meters”, en toe te “turn left in 100 meters” en toe’s ons sommer dadelik in een of ander besigheid se receiving yard… Die pad stop net hier. En Homer vat tyd, spasie en armkrag om ‘n U-draai te maak – of in sy geval ‘n W-draai. Met ‘n gesweet, gespook, gekyk na links en voor en regs en agter en vreeslike gevloek kom ons dwars, om en uit.
Die kampplek is toe pragtig en rustig – beste wat ons ooit gesien het. Natuurlik is dit ook die eerste kampplek wat ons nog ooit op was, so ons het absoluut geen verwysingsraamwerk nie, maar dit keer ons nie om soos regte kampeerders oor ons “site” te loop en kritiese en pittige opmerkings te maak nie. Ongelukkig krap ons so bietjie die glans van ons beeld van ervarendheid af toe ons Homer drie keer moet verskuif, want eers vergeet ons van die nodigheid om naby die kraan en krag te wees, en toe dat hy darem redelik “level” moet staan en toe (baie later) dat mens ook die son en wind in ag moet neem, as jy nie heeltyd jou enigste twee kampstoele wil verskuif om ‘n sonnetjie te kry of uit die windjie uit te kom nie…
Pyn (en amper bloed) het gekom toe ons Homer se “awning” (‘n afdakkie, vas aan Homer, wat maklik uittrek en dan op twee teleskopiese paaltjies staan gemaak word) die eerste keer probeer opstel. Met myself aan die een paal, en vroulief aan die ander, trek ons die (redelik swaar) awning uit, terwyl ons aan die boonste helfte van die paaltjie vashou. Tog vreeslik belangrik om aan die BOONSTE helfte vas te hou, want as jy aan die onderste helfte vashou, teleskoop die boonste helfte binne-in die onderste gedeelte van die poot, en die hele awning kom baie vinnig ondertoe, en kan jy lelik seerkry. Wat vroulief toe ongelukkig doen, en wat toe gebeur. Sy was gehurk op die grond, besig om pligsgetrou aan die ONDERSTE helfte vas te hou, toe die awning vinnig en deeglik afgly en haar verrassend akkuraat en hoorbaar hard op die agterkop tref. Snaaks genoeg is dit ek wat toe sit met die grootste probleem – hulp en simpatie gee, of uitbars van die lag? Gelukkig is ons al 15 (16?) jaar getroud, so ek weet (het al hard geleer) wat my beste keuse is. Haar eers mooi gehelp – koppie gevryf, gehelp om die paal weer uit te trek en daarna om haar naam, die datum en plek te onthou – en eers later SAAM met haar gelag, toe die meeste pyn en swelling bedaar het. (En die medisinale wyntjies die meeste pyn verdoof het.)
Dan, seker ons grootste bekommernis – ons eerste ablusieblok! Gelukkig was hierdie netjies, skoon en nogal mooi ingerig. (Na nog ‘n paar kampe sou ons agterkom dat dit amper ‘n uitsondering is.) Mens kon selfs bad, wat vir ons waterbeperkte Kaapstadders nogal ‘n vreemde opsie was. (Ons kon dit nie oor ons harte kry nie, en was meer as tevrede met ‘n 3 minute stort – ‘n stoute 1 minuut langer as by die huis.)
Verder was die kamp heerlik en meer pynloos. Daar’s in warm swembaddens geprut, natuurlik gebraai (ek het darem ‘n rooster onthou en hulle verkoop hout, want hout is nie onthou nie) en ons is met ‘n trekkerrit op na die guano grot toe.

 

Of wag, dit was nie vir almal pynloos nie. In ons trekkergroepie was daar ‘n man-en-vrou-stel wie se klere-groottes baie X’e en L’e inhet… Afgeklim van die trekker, kom ons agter ons moet met ‘n indrukwekkende lang en steil paadjie op grot toe. Net om dit interessant te maak, is die paadjie op plekke bedek met ‘n lekker verraderlike lagie gruis, wat voetvastigheid nie ‘n feit maak nie. Soos die XL-man agterkom toe sy plakkies halfpad op eenkant toe gaan, en hy anderkant toe. Voete onder hom uit, val hy ‘n paar stofwolke los, maar voordat ons kan begin lag, begin hy afROL na ons toe…
…en ewe skielik wil ons eerder help as lag, aangesien hy andersins ons almal saam met hom baie vinnig weer daar doer onder by die trekker gaan hê! Hande word uitsgesteek om sy spoed te breek en klippe word voor hom ingegooi (soos mens mos maak met ‘n sleg-handbriek trokkie wat wil weghardloop op ‘n afdraandetjie). Ons kry hom gestop knap voor my vrou, help hom op, stof hom af en ondersoek hom vir bene wat deur die vel steek. Wonderbaarlik is hy nog redelik in een stowwerige stuk, maar hy besluit daar en dan hy’t meer as genoeg gesien van die grot en sal eerder by die trekker vir ons gaan wag.


Die res van ons sukkel (nou baie versigtiger) die res van die opdraande uit, toe nog ‘n stewige stel trappe op, en kom uiteindelik in die grot. Waar troppe vlermuise verkeerd-om hang en rustig slaap, totdat ons hulle steur en hulle bekommerd begin verskuif, rondvlieg en guano begin produseer…
Maar die grot was die moeite en vrees werd. So-ook was ons eerste kamp al die sweet, stress en swets werd. Die rustigheid, stilte en vriendelike mede-kampers. Ons het geleer om nie die paadjie byster te raak nie, tyd te vat om alles om ons te waardeer en nie te stress oor die guano nie!

2 Replies to “Kampeer? Kampseer!”

  1. Weer kliphard uit my maag uit gelag!! Ons bure in Calyoso Beach is definitief wakker -sal môre omverskoning vra en hulle bekend stel aan jou blog Wessel. Ek sien hoe die man aangerol kom en beleef dit. Dankie vir die lekker lag en ‘saam kuier”

Leave a Reply

Your email address will not be published.