Die Dropperstorie

My ontnugtering, teleurstelling en wantroue in my ma het op een dag, een plek en in ‘n paar sekondes ontstaan. Tot op daardie dag was ek vas oortuig dat sy ten minste die normale hoeveelheid liefde en beskerming vir my, ‘n tipiese stoutgat standerd 5 (graad 7, vir die van ons wat sonder LPs, Walkmans en minder-as-R1/li petrol groot geword het) seuntjie.

Sy het altyd voorgegee dat sy van my hou – sy het ten minste altyd die klere wat ek van my broer moes erf eers mooi gewas en gestryk (ek onthou baie corduroy en bell-bottoms, om een of ander rede) en sy het nie baie gemoan om elke dag vir my eindelose bekers tee te maak en Enterprise polony te braai nie. (Dit was laaaank voor ons listeriose-probleempie, en ek was maar ‘n weird kind.) En aangesien ons op ‘n plot gebly het (kleinhoewe, wanneer mense gevra het wat ek wou impress het), het ek saam met haar “hoenders opgepas” en help om elke hoender, skaap en bees op die plot ‘n naam te gee. Ek het selfs gehelp om die room-afskeier en botter-karring te draai. (En nee, ek gaan nie eers probeer om daardie twee items en sieldodende take te probeer verduidelik aan ons nuwe geslag met met hulle Netflix en telefone-sonder-‘n-tou-wat-nog-fotos-ook-kan-afneem nie.)

Die “hoenders oppas” was eintlik net ‘n verskoning vir haar om buite in die tuin te sit, met ‘n Peter Stuyvesant sigrêt en ‘n beker tee, terwyl sy die bogenoemde hoenders opgepas het. (Ons hoenders was free-range, nog voor dit ‘n woord was en jy R20 meer vir free-range as gewone eiers moes betaal het.)

Ek het dit my plig geag om haar op sulke tye te help om die tyd om te kry deur haar ‘n bietjie te verstom met my atletiese vermoeens. (en ja, ek besef ook nou eers ek moes nogal irriterend gewees het!) Ek het eers indrukwekkend hoog op ons swaai geswaai (ek kon op ‘n stadium AFkyk op die wolke). Toe my pap rugbybal, geteken deur Gerald Bosch (ai tog, mense wat nooit twee jaar lank moes “Ja, korporaal!!!” skree nie – hy was ‘n rugbyspeler vir Transvaal – sorry, die Lions – of eerder, die Gauteng Lions – ‘skies, die Golden Lions, en ook vir die Bokke in die 70s) ongelooflik akkuraat oorgeskop het (oor die draad in die groentetuin in, waar ek dit weer moes loop haal) besluit ek om af te sluit met my pièce de résistance. (Ek dink pièce de résistance is Frans vir die moeilikheid wat ‘n blaasinfeksie veroorsaak.) Eers ‘n bietjie agtergrond: Daar was natuurlik heelwat struike, bome en ander groen goed in die tuin, en een van die struik-bos-goeters was ‘n weerbarstige ronde wilde groen plant-ding. Geen idee wat dit se naam was/is nie, al wat ek weet is dat sy blare, fyngevryf tussen jou vingers, ‘n lekker suurlemoengeur afgegee het. Maar die plant (kom ons noem hom Gawie) speel nie eintlik ‘n Tom Cruise rol in my Euwel Kneukel storie nie – daai eer kom die paaltjie toe wat in die bos geplant was – sekerlik om Gawie bietjie ondersteuning te gee in sy jong en later moeilike jare. Die paaltjie was ‘n ou, geroeste dropper. Weereens, vir die wat dink mens kry nog altyd sushi, iPads en plat TVs wat nie ‘n halwe ton weeg nie – ‘n dropper is ‘n dun paaltjie wat normaalweg gebruik word om ‘n doringdraad heining te versterk en styf te hou. (Heining-Viagra, basies.)

My p.d.r. was as volg: Ek gaan oor die bos en oor die dropper spring! Seuntjie-alleen, sonder enige meganiese hulp en defnitief geen CGI nie. (En nou moet ek seker vir die krimpies en plooie verduidelik dat CGI verwys na die 3D Computer-Generated Imagery wat gebruik word om special effects in flieke en TV te doen. En nee, daar was geen CGI betrokke in die maak van Tant Ralie se Losieshuis of Nommer Asseblief nie…) Ek het hierdie lewensgevaarlike toertjie net die vorige week onder die rug en agter die knie gekry. Ek trek toe hoflik my ma se aandag deur soos gewoonlik “Maa-haaa!!!” te skree. Sy sien toe haar “geliefde” seuntjie verlang haar aandag, en ek lig haar toe in dat sy binne oomblikke verstom gaan wees deur my waaghalsigheid. (Windgatgeit?) Ek kon sien sy moes sukkel om haar afwagting en opgewondenheid te beheer, want sy het nog ‘n sluk tee gevat en amper haar sigaretjie neergesit.

Ek neem toe ‘n behoorlike aanloop, want Gawie is bietjie breed en die droppertjie hoog. Ek chaaarge vorentoe, trap net mooi reg vas en trek soos – ja, ek gaan dit sê – soos ‘n springbok wat slang gesien het deur die lug. Op, op, hoër en hoër….  Oor die bos en oor die dropper! Wel, amper oor die dropper. Of die lugdruk te laag was, of die lugvogtigheid te hoog, weet ek nie, maar ek kom toe bietjie vroeg af. Presies net vroeg genoeg om die dropper in my hol te kry. Dit veroorsaak natuurlik dadelik ‘n traantrekkende hoeveelheid pyn, ongerief en skok. (Ek het ook daar ‘n belangrike lewenskeuse aangaande die geslag van my toekomstige lewensmaats geneem, maar dis ‘n ander storie.)

Sou dit die einde van my spontane proktologiese eksperiment wees, sou ek toe (en nou) baie bly gewees het. Maar daar was onmiddellik NOG ‘n probleem – die dropper was baie diep en deeglik staangemaak in die bos, en (natuurlik) presies net ‘n bietjie hoër as my uitgestrekte beentjies en skoppende voetjies. As ek terug dink aan die prentjie wat pynlik diep (pun definitief intended) in my geheue gebrand is, sien ek duidelik hoe my bene begin maal terwyl my oë al groter word. (Baie soos wanneer Wile E. Coyote die Road Runner WEER nie gevang het nie, en hy oor  een van daai hogerige kranse gaan. Sy maer, harige beentjies word mos so ‘n blur soos hy innie lug probeer terughardloop vaste grond toe…) Maar nou ja, daar sit-hang-hardloop ek toe oppie dropper.

En dis hier waar my beeld van my ma as my versorger en vertrooster vir ‘n pot snot gegaan het. Ek, besig om redelik desperaat te raak, kom agter al my gespartel vererger net die “diepte” van die moeilikheid waarin ek is, en kyk toe angstig om na Mamma toe. Sy sal mos help – sy MOET mos help. Sy is seker al sterk oppad…

En toe sien ek iets wat my vir jare middernag laat wakkerskrik het, en haar verjaarsdag en Kerfees geskenke se grootte en koste sedertdien baie verminder het. Sy lag dat die trane loop, sy lag dat sy haar brilletjie moet afhaal om die trane af te vee…. Toevallig genoeg was sy ook besig om haar hol te skeur…

Ek dink dit was dié skok wat my laat oorval-afruk-uitpluk van my dropper af. (Ek dink ek kan dit seker nou maar MY dropper noem.) Ek het oogkontak met my ma vermy – ek kon haar eers 12 dae later weer in die oë kyk – wydsbeen huistoe geloop en die Dettol gaan soek. Ek was wel jonk, maar ek het geweet pleisters gaan nie werk nie – mens kan nie daai gat toeplak  nie.

Ek wens net ek was toe skerp genoeg (en on-seer en on-sielkundig-geknak genoeg) om in die verbystap vir haar te sê: “Ma kan maar lekker lag, maar ma het my eintlik vandag sleg gedrop…”

8 Antwoorde op “Die Dropperstorie”

  1. Wessel, jy is ‘n humoristiese skrywer van formaat! Ek beleef die storie of dit voor my afspeel. Moet asseblief nie ophou met skryf nie. Sien uit na die volgende een.

  2. Ek like jou storie… so nou en dan speel ek self n bietjie rond. Het geen idee hoe om te blog nie, maar sal seker eendag uitfigger!
    Moenie stop nie!

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.