Karavaan koop is nie perde trou nie…

Ai, die tranedal toe ons vir Homer ‘n nuwe huis kry. Ons het in ‘n kort tyd lang myle op hom gesit. Memories gemaak soos Eskom groenhuis gasse produseer. Ons was by Gansbaai, Addo, Glentana, Clarens, Montagu, Plet, selfs Brandfort! (Darem nie Nkandla nie…) Maar die kampgogga het seer gebyt – die bloed het geloop. (O.K. daai een is op my – nie gedink ‘n tentpen wat gly kan so maklik ‘n gat in jou hand maak nie.) So die volgende stap op daai glibberige Teflon afdraande van “Kamp is Koning!” is om die gerief, gemak en spoed van Homer (jy stop, eet en slaap in drie maklike stappe, sonder enige karavaan-kaskenades of tent-tantrums) te verruil vir die stress, sweet en swets van karavaan-maneuvre, tent op- en afslaan en om altyd net een of twee tentpenne te min te hê. (Spoiler alert – Karavaan Kamp is toe Koning – maar luister eers na ons stryd en spook. En ek het gedink om ‘n ystervark te molesteer is moeilik…)

So, daar skommel ou Homer die verte in. En met “die verte in” bedoel ek die twaalf treë voor sy nuwe eienaars met hom om die hoek verdwyn. Ons pink ‘n traan of drie, kyk deur al ons Homer fotos en besluit finaal en vir ewig om nooit weer die lang pad aan te durf nie. Lees meer “Karavaan koop is nie perde trou nie…”

Swarbergpas – broekskeur en briekmerke…

Nou vir die Bruce Willis, “Die Hard”, naelbyt, bekommerde knyp-poepe los, gaan-hulle-dit-maak-of-nie Homerstorie. (Weereens, vir dié wat om onverklaarbare en ja, kommerwekkende redes nog nie met Homer bekend is nie, gaan lees die ander stories!

Ons (dis nou die ou A-span – ek, Die Smurf en Pixel. As die name vreemd is, sien bo) was vroeg September laas jaar met Homer in Oudtshoorn. Al die toeriste-aantreklikhede en baie van die onaantreklike toeriste gesien. Ons besluit toe, een aand laat, langs die vuur met dapper glas in hand (natuurlik het glas nie invloed op gesprek gehad nie), om die Swartbergpas met Homer aan te durf. Nou dis nie Mount Everest nie – jy kort nie aanpassing by die altitude, supersterk Sherpas of swaar suurstofbottels nie. Dis net ‘n pas oor en deur ‘n bergreeks. Nou-wel grondpad, klipperig, nouerig, steilerig, swenkerig, met vele slootjies en knikkiekies, en nie vreeslik baie in die vorm van gerusstellende barriers tussen jou en ‘n bungie-lose jump nie, maar ons het dit al gedoen met net ‘n Opel Corsa Lite. (Hy was darem skree-moord-rooi, wat sekerlik gehelp het.) En daar’s nie baie wat jy my kan vertel oor hoogtes, sneeu, berge en moeilike, stressvolle situasies nie – ek het darem al op ‘n hoë leer gestaan, Cliffhanger en Touching the Void gekyk en ‘n halwe Kurt Darren liedjie geluister. Lees meer “Swarbergpas – broekskeur en briekmerke…”

Water!? Watter water?

Goeie nuus vir almal wat hou van lag is dat die Gordonsbaai Beukesse pad gevat het op die 13de Januarie. Al hulle aardse besittings is verkoop of weggegee of weggegooi of op stoor geplaas. Toe’s daar ‘n te-groot karavaan agter ‘n te-klein karretjie gehak, Sir Lowry’s pas op- en oorgesukkel en afge-free Jongensfontein toe. Waar ons vir die eerste keer in ons lewens self ‘n karavaan moes parkeer, uitlevel, grondseil slaan en tent opslaan. En het alles perfek afgeloop, soos op how-to YouTube videos? NATUURLIK NIE! Maar ons gaan ‘n deeglike, koeklike, pasteilike vertelling van daai hele gesukkel binnekort hier plaas. En Jongensfontein is net die begin van ons jaar se permanente kamp-omswerwinge. Ons wil nog orals. En elke plek sal ons die gesukkel, die gelekker en die gekamp met julle hier deel. Plus natuurlik details, inligting en baie fotos van elke kampplek en karavaanpark, ingeval een van julle ook daar wil gaan bly.

Maar vir oulaas ‘n laaste paar kort Homer-stories. (Teensy julle vra vir nog.) Weet jy nie wie is Homer nie? So gedink. Alweer nie ons ander Homer stories op ons blog gelees nie, nê? Die snaaksste voertuig sedert Herbie en Mr Bean se Mini en jy ignoreer hom!? Sies! Lees meer “Water!? Watter water?”